Weer op die been ná robot help met knievervanging

Dr. Mark van der Kaag (Foto: Verskaf)

’n Wes-Kaapse vrou is weer aan die fietstrap in die gimnasium nadat ’n robotiese arm vroeër vanjaar hand bygesit het tydens haar gedeeltelike knievervanging.

Melanie van Heerden is die eerste pasiënt in die Wes-Kaap om ’n operasie te ondergaan waartydens ’n robotiese arm ingespan is om die chirurg by te staan.

Van Heerden se spoedige herstel word nou gedeeltelik toegeskryf aan dié gevorderde opsie wat in die stadium net by een hospitaal in die Wes-Kaap – die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Kaapstad – aan pasiënte gebied word.

Dit is hier waar die ortopediese chirurg dr. Mark van der Kaag in Maart vanjaar Van Heerden se gedeeltelike knievervanging met behulp van die Mako SmartRobotics- chirurgiese stelsel uitgevoer het.

Van Heerden, ʼn ywerige drawwer, vertel dat sy die dag na haar operasie reeds met die hulp van ’n fisioterapeut kon opstaan en teen die derde dag reeds begin trappe klim het. Van Heerden het boonop slegs twee weke krukke gebruik na haar gedeeltelike knievervanging.

Van der Kaag verduidelik dat die robotiese chirurgiese stelsel in wese bykomende veiligheidsmaatreëls bied om te verseker dat die chirurg slegs binne die bepaalde afmetings wat vir optimale akkuraatheid benodig word, werk.

“Ek is te alle tye ten volle in beheer van hierdie hoogs gesofistikeerde instrument, aangesien die robot se sagteware‑ en hardeware-elemente slegs werk soos gelei deur die chirurg deur die voorafbepaalde driedimensionele chirurgiese plan.”

Van der Kaag verduidelik voorts dat die stelsel drie sleutelkomponente kombineer, naamlik 3D CT-skandering-gebaseerde beplanning, AccuStop-tegnologie en insiggewende data-analise.

Melanie van Heerden trap weer fiets sewe maande ná haar gedeeltelike knievervanging. (Foto: Verskaf)

“Een van die voordele van hierdie benadering is dat die omliggende sagte weefsel en been behoue ​​bly aangesien die stelsel snye beperk tot slegs die spesifieke afmetings wat nodig is om die prostetiese gewrigsinplantings te plaas en te belyn om by die pasiënt se individuele anatomie te pas.”

Van der Kaag verduidelik dat dit nie in Van Heerden se geval nodig was om die hele kniegewrig te vervang nie, en daar is besluit op ’n gedeeltelike knievervanging. Die operasie kon vooraf haarfyn beplan word op grond van die gedetailleerde data van haar CT-skandering.

Van der Kaag het dus in die teater die virtuele 3D-knie- en chirurgiese plan in lyn met Van Heerden se werklike knie gebring. Dít het die grense bepaal waarbinne hy moes werk.

Vandaar verskaf die robotarmstelsel gedetailleerde visuele, ouditiewe en tasbare terugvoer om die chirurg te help om die beskadigde gedeelte van die been te verwyder, en om die ingeplante prostetiese kniegewrig akkuraat te posisioneer.

“Hoe akkurater die ingeplante gewrig pas, hoe gemakliker en stabieler sal die knie waarskynlik wees,” verduidelik hy.

Vinnig weer op die been

Ander voordele van die robotiese chirurgiese stelsel is minder pyn ná die operasie en ’n korter hersteltydperk.

Van der Kaag meen dit is dus die ideale opsie vir diegene “wat hul daaglikse lewe so gou moontlik wil hervat”.

“Die vermoë om die prostetiese knie akkurater te posisioneer, gee dikwels ’n natuurliker gevoel aan die knie en laat pasiënte toe om terug te keer na die meeste van die aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.”

Van Heerden getuig hiervan.

Sy vertel dat sy voor sy knieprobleme opgedoen het, ’n ywerige drawwer was wat aan die Twee Oseane sowel as verskeie halfmarathons deelgeneem het.

“Nou, sewe maande ná my gedeeltelike knievervanging, ry ek fiets by die gimnasium en stap ek al langer afstande.”

Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling, sê die hospitaalgroep het onlangs hierdie gevorderde opsie vir pasiënte wat knievervangings benodig in die Wes-Kaap bekendgestel nadat ’n vraag na Mako-robotarmondersteunde chirurgie by die Netcare Linksfield-hospitaal in Johannesburg opgemerk is.

Dié Gautengse hospitaal gebruik die stelsel sedert 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Gedeeltelike knievervanging? Ek het ‘n ‘kompleet knieverwydering’ gehad dekades gelede. Patella oftewel knieskyf verwyder na ‘n motorongeluk, Met die tyd pas die liggaam aan daarby, Spiere groei wat patella se werk oorneem. Die skepping is wonderlik.

Paul

My vraag is nou.. hierdie is n awesome ontwikkeling in medies. Hkm sal die vaxx ontwikkeling dan nou nie soo goed ontvang

Johanna

Dit is byna twee maande nadat ek ‘n volle knievervanging gehad het met die hulp van Robotics. Ek kan eerlik nie getuig dat dit ‘n verskil in my herstel proses gemaak het nie. Ek ondervind baie probleme met my herstel proses, alhoewel ek gereeld fisioterapie ontvang en getrou my oefeninge doen. Wat is mens se verwysingsraamwerk om te bepaal of Robotics werklik ‘n verskil maak.