(Weer) waarskuwings vir die Kaap

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Kapenaars moet hulself staal vir stormweer en koue wat die naweek in die Kaapprovinsies verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê ʼn kouefront sal na verwagting Vrydag oor die suidwestelike dele van die Kaap beweeg, wat wydverspreide buie, sterk wind en rowwe seetoestande sal meebring. Dié weerstoestande sal teen Saterdagoggend na die Oos-Kaapse suidkus versprei.

Die weerdiens het ’n geel vlak 2-waarskuwing teen sterk winde van tot 70 km/h in die suidelike dele van die Namakwa-distrik, die Sentrale en Klein‑Karoo, Kaapstad, die Overberg-distrik en die Kaapse Wynlande uitgereik. Hierdie winde kan van Vrydag tot Saterdag in dié gebiede woed.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die weerdiens, sê inwoners moet bedag wees op sterk winde wat skade aan infrastruktuur kan aanrig en tot wegholveldbrande kan lei.

Die weerdiens waarsku ook teen hoë seedeinings van tussen 5 m en 6 m aan die wes- en suidkus van die Wes-Kaap.

“Rowwe seetoestande, tesame met ’n volmaan, kan veroorsaak dat bote moeilik koers hou. Dit kan die gevaar skep dat mediumgrootte of groot vaartuie se ankers sleep of vasmeerlyne breek,” sê Doubell.

Reën sal na verwagting teen Vrydagmiddag wydverspreid oor die westelike dele van die Wes-Kaap uitsak. Dit sal teen die aand na die suidelike gebiede van die provinsie versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Met ander woorde, ons hier in Gauteng gaan weer lekker koud kry…

Samuel

Ons is hierdie weer te wagte. Dit is tog winter in SA? Net die mense in plakkerskampe gaan werklik swaarkry. Arme onderdruktes.

Anel

Ek nie glo mense wil nog so graag in die Kaap bly of gaan bly nie. Ek kan die winter gladnie hanteer nie. Ek hiberneer. Sou baie lekker op die ewenaar gebly het.