Weerdiens bevestig drie tornado’s

‘n Tornado wat in Bethulie in die Vrystaat waargeneem is (9 Oktober 2017). Foto: Twitter via ReenvalSA/Vleis Terblanche

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het bevestig drie tornado’s is Maandag waargeneem in onderskeidelik Ruimsig in Gauteng, Eloff in Mpumalanga en Bethulie in die Vrystaat.

Dit kom nadat swaar reën, stormsterkwinde en reusehaelkorrels Maandag op verskeie plekke erge skade aan geboue, paaie en voertuie aangerig het, talle mense dakloos gelaat het en tot die besering en selfs dood van mense gelei het.

Die SAWD het in ʼn verklaring gesê ʼn reeks donderstorms het gister oos van ʼn afsny-laedrukstelsel oor die westelike gedeelte van die land gevorm. Die storms het oor die sentrale dele van Noordwes en die Vrystaat ontwikkel en in ʼn oostelike rigting beweeg.

“Weens heersende gunstige toestande, insluitend volop laevlakvog en sterk lugvloei in die laer gedeeltes van die storm, het sommige van hierdie storms in supersel-donderstorms ontwikkel. Supersel-donderstorms is die mees intense vlak van donderstorms en word gekenmerk aan ʼn diep roterende opwaartse lugstroom, het oor die algemeen ʼn lewensduur van ʼn paar ure en gaan in 90% van die gevalle gepaard met hewige weerstoestande, byvoorbeeld hael, tornado’s en oorstromings.”

ʼn Foto wat Maandag in Eloff in Mpumalanga geneem is (9 Oktober 2017). Foto: Twitter via @StormReportSA1/Marcia Blom

Die weerdiens het Sondag en Maandag verskeie waarskuwings vir erge donderstorms in Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga uitgereik. ʼn Waarskuwing vir erge donderstorms word uitgereik wanneer ʼn donderstorm moontlik gepaard kan gaan met hael groter as 19 mm in deursnee, ʼn tornado, windvlae van 93 km/h of meer of swaar reën wat plek-plek tot oorstromings kan lei.

Volgens die SAWD het die weerstelsel intussen na die ooste beweeg en ervaar die meeste plekke wat gister deur die storms geaffekteer is nou sonnige weer. ʼn Waarskuwing is egter vir swaar reën in KwaZulu-Natal uitgereik en Durban het Dinsdag erg onder reën, hael en sterk winde deurgeloop.

Volgens die SAWS kan swaar reën ook vandag oor die oostelike dele van die Oos-Kaap verwag word voordat die weerstelsel later vandag heeltemal van die land af sal beweeg. “Donderstorms sal na verwagting Saterdag na die land terugkeer,” lui die verklaring.

Die SAWD het gesê hy sal voortgaan om die ontwikkelings in die weerstelsel te monitor en sal nuwe inligting aan die publiek deurgee soos nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofskoen ·

Dit lyk my hierdie gaan ‘n laaanng somer wees.

My verloofde raak senuagtig as ‘n blaartjie van die grond op waai. Hulle dak is in die verlede afgewaai gewees en van toe af hou sy nie van storms nie.

Nou sommer drie tornado’s in een dag.

Theresa ·

Die weer verander drasties in ons land. Is daar enige noodplanne soos wat sommige ander lande oorsee het? Is die Suid-Afrikaanse regering great om grootskaalse noodmaatreëls vining in werking te stel – of is dit om te droom van kiewieteiers in London??!
Scary…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.