Weerdiens waarsku: Nóg reën op pad vir KZN

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Daoudi Aissa/Unsplash)

Net toe KwaZulu-Natal begin asem skep het ná die verwoestende oorstromings wat die lewe van talle mense geëis het, word swaar reën wéér vir dié provinsie voorspel.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Saterdag ’n geel vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën in die suidoostelike dele van KwaZulu-Natal uitgereik. Dit sluit in die eThekwini-metro en die Ugu-distrik wat veral sleg onder die onlangse oorstromings deurgeloop het.

’n Geel vlak 2-waarskuwing is ook vir die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal, waaronder die Zululand-, uMzinyathi- en Amajuba-distrik, uitgereik.

Die weerdiens sê ʼn kouefront sal na verwagting vanmiddag (Vrydag) saam met ʼn sterk bolug-trogstelsel deur KwaZulu-Natal beweeg, voordat dit teen môre na ʼn afsnylaagdrukstelsel sal omskakel.

Daar word verwag dat tussen 20 en 40 mm reën oor die noordelike dele van KwaZulu-Natal sal uitsak. Die vrees vir nog oorstromings bestaan aangesien die grond weens die onlangse swaar reën moontlik nog versadig kan wees.

Die oorstroming van paaie, brûe en laagliggende gebiede sowel as modderstortings, gronderosie en skade aan eiendom en infrastruktuur is in dié stadium weer ’n moontlikheid.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het net vandeesweek gesê die provinsie is stadig maar seker besig om weer op die been te kom nadat die verwoestende oorstromings meer as 85 000 mense geraak het.

Altesame 448 mense is in die oorstromings dood en 50 beseer. Soveel as 88 word steeds vermis.

Meer as 27 000 huishoudings is deur die oorstromings geraak met sowat 8 500 huise wat heeltemal vernietig is en 13 500 wat gedeeltelik vernietig is. Byna 7 000 mense is weens die verwoesting dakloos gelaat.

Die premier het inwoners Donderdag gerus gestel dat sy rampreaksiespanne ten volle voorbereid is vir die naweek se voorspelde reën.

“Ons doen ʼn beroep op ons medeburgers om ag te slaan op die waarskuwing, veral diegene wat in gebiede woon waar oorstromings ʼn groot moontlikheid is.

“Die provinsie het skaars herstel van die onlangse oorstromings en baie gebiede en infrastruktuur is steeds kwesbaar. Ons moet nou alles moontlik doen om opvolgende rampe te vermy.”

  • Reën en koue word ook dié naweek in ander dele van die land verwag. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.