Weerdiens waarsku ook dié provinsies

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Sondag ʼn oranje vlak 5-waarskuwing vir Limpopo en Mpumalanga uitgereik, weens die waarskynlikheid van swaar donderstorms in dié provinsies.

Dit volg nadat ʼn rooi vlak 10-waarskuwing, die hoogs moontlike waarskuwingsvlak, Saterdag vir dele van KwaZulu-Natal uitgereik is.

Die weerdiens voorspel tussen 50 mm en 70 mm reën vir Mpumalanga, wat tot plaaslike oorstromings kan lei. In Limpopo word tussen 50 mm en 80 mm reënval Sondag verwag. Dít, sê die weerdiens, kan veral ʼn uitwerking op laagliggende brûe en informele nedersettings hê, en die weerdiens waarsku daar kan moontlik skade aan infrastruktuur aangerig word.

In KwaZulu-Natal reën dit sedert Saterdag een stryk deur en nooddienste en die weermag het reeds begin om mense hier te verwyder, uit vrees dat oorstromings hul lewe in gevaar kan stel.

“Die koue en reën sal waarskynlik teen Sondag na die Noordkus versprei en gebiede soos Richardsbaai en Empangeni raak,” het die provinsiale regering Saterdag in ʼn verklaring gesê.

Die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake het ook Sondag gesê hy is bekommerd oor die uitwerking van die naweek se swaar reën op gemeenskappe in dié provinsie, veral in die lig van oorstromings ʼn paar weke gelede wat duisende dood of dakloos gelaat het.

Reën en koue word ook die res van die dag vir groot dele van die Vrystaat, Gauteng en Noordwes voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank John ·

Dit kannie “weens” die waarskuwings wees dat daar oorstroomings ens. Kan wees nie maar weens swaar reëns. Die waarskuwings veroorsaak dit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.