Weerdiens waarsku oor bibberweer, sneeu en swaar reën

Rhodes in die Oos-Kaap Maandagoggend. Foto: Via @SnowReportSA op Twitter.

Rhodes in die Oos-Kaap Maandagoggend. Foto: Via @SnowReportSA op Twitter.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings uitgereik vir swaar reën en sneeu vir Maandag en Dinsdag in talle provinsies.

Wayne Venter, weersvoorspeller, het aan Maroela Media gesê die bibberweer, wat gepaardgaan met sneeu en reën, word toegeskryf aan ʼn afsnylaagweerstelsel. ʼn Afsnylaag is ʼn sterk laagdrukstelsel, wat tussen twee hoogdrukstelsels afgeknyp word en aanhoudend met vogtige lug aangejaag word.

“Die stelsel begin teen Woensdag uit die land te beweeg en buiten vir die Wes-Kaap, sal temperature Donderdag eers weer begin styg,” het Venter gesê.

Die stelsel het sneeuval in gedeeltes in die Vrystaat, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Wes-Kaap en Noord-Kaap meegebring.

Swaar sneeuval het tot volg gehad dat verskeie paaie en bergpasse in onder meer die Oos-Kaap moes sluit.

Volgens Charles Bramwell, adjunkdirekteur van die Oos-Kaapse verkeersdepartement, is minstens drie van die besigste passe in dié provinsie gesluit. “Dit sluit die Loodsbergpas op die N9 tussen Graaf-Reinet en Middelburg, die Wapadsbergpas op die R61 tussen Cradock en Graaff-Reinet en die Penhoekpas op die N6 tussen Queenstown en Jamestown in,” het Bramwell gesê.

Ander paaie wat gesluit is, sluit die R410 tussen Cala en Queenstown, die R392 tussen Dordrecht en Queenstown, die Boesmanshoekpas tussen Sterkstroom en Molteno en die Satansnekpak tussen Elliot en Ngcobo in.”

Die weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik vir swaar reën Maandag in die sentrale gedeeltes van Noordwes, die sentrale gedeeltes van die Vrystaat, die sentrale en oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap en suidelike en suidwestelike gedeeltes van KwaZulu-Natal.

ʼn Waarskuwing is ook uitgereik vir swaar sneeu, wat ontwrigting kan veroorsaak in die noordoostelike gedeeltes van die Oos-Kaap, die suidelike en suidoostelike dele van die Vrystaat en suidwestelike gedeeltes van KwaZulu-Natal.

ʼn Waarskuwing vir swaar reën Dinsdag is uitgereik vir die hele Gauteng, oostelike gedeeltes van die Vrystaat, suidelike gedeeltes van KwaZulu-Natal, suidoostelike gedeeltes van die Oos-Kaap en suidelike en suidwestelike gedeeltes van die Wes-Kaap.

Swaar sneeu, wat ontwrigting kan veroorsaak, kan voorkom in die noordoostelike gedeeltes van die Oos-Kaap, suidwestelike gedeeltes van KwaZulu-Natal en suidoostelike gedeeltes van die Oos-Kaap.

Venter het gesê Gautengers moet hulle regmaak vir ʼn nat en koue Dinsdag, met ʼn weerwaak wat uitgereik is vir donderstorms.

Dinsdag se verwagte gemiddelde minimum en maksimum temperature is:

  • Pretoria: 10/16
  • Johannesburg: 9/14
  • Kaapstad: 11/13
  • Bloemfontein: -2/14
  • Richardsbaai: 14/22
  • Oos-Londen: 14/20
  • Kimberley: -2/15
  • Polokwane: 9/22
  • Rustenburg: 5/18
  • Nelspruit: 10/19
  • Durban: 12/20
  • Port-Elizabeth: 11/21

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karma ·

Dit wil my voorkom asof swaar reën en bitter koue net gerapporteer word sodra dit die noordelike provinsies (Oos-Kaap, Vrystaat, KZN en Gauteng) bereik. Mense, hier in die Wes-Kaap is dit al sedert voor die naweek BITTER koud – reën, reën en nogmaals reën en toe kom die sneeu. Dit is klappertand koud!!!

Mien ·

Dink Barkly pas tussen Elliot en Barkly- Oos is ook gesluit. Die kapok maak lekker nat. Vog wat broodnodig is en daaroor is ons baie dankbaar.

Joann ·

Hier by ons in die Oos Kaap ysig koud. Regte kombers weer. Lekkerrrrrr.

Johan ·

Terwyl ek die artiekel van nostalgiegroete lees laat dit my terugdink aan `n paar jaar gelede toe ons by die polisie vakansieoord naby Nylstroom gaan vakansie hou het. Nou wil ek net eers noem dat ons toe ek `n kind was op Naboomspruit en Warmbad gebly het. Met die terugkom slag vra my pa wat op daardie staduim in sy laat tagtigs was waar was julle? Ek sê toe ons het van Thwane na Bella-Bella gery vandaar na Modimolle waar ons vakansie gehou het en toe weer van Modimolle na Bella-Bella n terug na Thwane. My pa het so stil gesit en na my gekyk met `n verdwaasde uitdrukking na `n rukkie vra hy. Waar in die werêld was julle?

Karma ·

@Johan, hoe lekker lag ek nou! Ja-nee kyk, met al die naamsveranderinge moet mens kophou! Dis van Belly-Belly (Bela-Bela) tot Moddermol (Modimolle) na Lepellê (Lephalale) in Ma-poep-al-lankal (Mpumalanga). So vereenvoudig ek maar die tongknoop woorde vir myself. :-)))

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.