Weerdiens waarsku oor sneeu

‘n Argieffoto van sneeu in Sutherland. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Dele van die Oos-Kaap kan moontlik met ʼn laag sneeu bedek word as gevolg van twee laedrukstelsel wat in die volgende paar dae oor die land gaan beweeg.

Dit kom enkele dae nadat sneeu in Namibië uitgesak het weens ʼn laedrukstelsel wat Sondag oor die Namibiese kus beweeg het.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het inwoners van die Wes- en Oos-Kaap gewaarsku dat die twee kouefronte reeds Donderdag oor die provinsies sal beweeg en ysige temperature sal meebring.

ʼn Geel vlak 1-waarskuwing vir sneeu en reën is Woensdag vir die provinsie uitgereik.

“Die bolugstelsel sal na verwagting temperature aansienlik laat daal, tot vriespunt, wat dus ʼn kans op sneeuval oor hoogliggende gebiede in die noordooste van die Oos-Kaap tot gevolg hê,” het die weerdiens gesê.

Benewens die sneeu wat in die Oos-Kaap kan uitsak, is daar tot ʼn 80%-kans vir reën vir sommige gebiede soos wat die laedrukstelsel oor die provinsie beweeg.

“Swaar reënbuie word langs die kus en aangrensende binneland tussen die Stormsrivier en veral Gqeberha verwag sodra die kouefront deur die provinsie trek.”

Die weerdiens het ook gewaarsku dat die gepaardgaande weerstoestande gladde paaie tot gevolg kan hê wat tot hewige verkeersontwrigtings kan lei.

Temperature in die Oos-Kaap sal na verwagting nie ʼn minimum van 10 ˚C en ʼn maksimum van 18 ˚C oorskry nie.

Die kouefront oor die suidweste van die Wes-Kaap sal na verwagting tussen 15 en 20 mm reën oplewer wat teen Donderdagmiddag na die Suidkus en die Klein-Karoo sal beweeg.

“Reën word grotendeels vanaf Donderdagmiddag tot Vrydagoggend oor die oostelike dele van die Suidkus verwag, waar 20 tot 40 mm reënval binne ʼn tydperk van 36 uur kan voorkom,” het die weerdiens gesê.

Talle verkeersvertragings word vandag (Donderdag) op groot paaie in die Kaapse metro verwag, asook die Tuinroete. Die vertragings sal na verwagting tot Vrydag duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

Bly maar binnenshuis (oor die naweek as mens kan), bly warm en hou die diere ook warm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.