Weerdiens waarsku oor tropiese storm Eloise

Foto: SA Weerdiens

Die hewige tropiese storm Eloise het Vrydagmiddag oor die sentrale deel van die Mosambiekkanaal in ʼn suid-weswaartse rigting beweeg teen ’n matige snelheid van ongeveer 22 km/h.

Die storm het in die afgelope 24 uur aansienlik versterk, gegewe die baie warm seewater van die Mosambiekkanaal. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal die storm in die volgende 24 uur al nader aan Beira, ʼn kusstad in Mosambiek, beweeg en teen more tot ʼn tropiese sikloon versterk het voor dit Beira die middag bereik.

Die kuslyn onmiddellik suid van Beira sal na verwagting die ergste geraak word met aansienlike stormtoestande wat in en om die Beira-kuslyn verwag word.

Eloise sal nadat dit Beira bereik het na verwagting reguit aanbeweeg deur die suide van Mosambiek. Dit is in die tyd dat die noordoostelike dele van Suid-Afrika, veral langs die platorand- en laeveldgebiede van Limpopo en Mpumalanga sowel as die noordelike gebiede van Limpopo, swaar tropiese reën kan ervaar.

Die noordelike dele van KwaZulu-Natal kan ook Sondag swaar reën verwag en die toestande sal na verwagting tot Maandag voortduur. Volgens die weerdiens is daar ’n ernstige risiko vir ontwrigtende reën wat verband hou met wydverspreide oorstromings en vloedverwante skade aan infrastruktuur, insluitend behuising, paaie en brûe in die voormelde gebiede.

Alhoewel die swaarste reën Sondag en Maandag verwag word, kan nog reën Dinsdag en Woensdag voorkom wat tot verdere oorstromings kan lei.

Stormsterkwinde van tot 80 km/h kan Sondag in veral die noorde van Limpopo voorkom en die weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik vir die moontlikheid van windskade. “Hierdie streke ervaar selde hierdie tipe winde en gevolglik kan verwag word dat talle bome ontwortel kan word en dat informele huise en strukture ook beskadig kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.