Weerdiens waarsku teen brandgevaar, koue

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Vrydag ’n waarskuwing teen uiters hoë brandgevaartoestande in sekere dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap uitgereik.

Dít voordat ’n kouefront na verwagting dié dele van die land Saterdag sal tref.

’n Geel vlak 2-waarskuwing teen swaar reën is intussen vanaf Saterdag tot Sondag vir die Overberg en suidelike gedeeltes van die Kaapse wynland uitgereik.

Dié dele het verlede week gebuk gegaan onder swaar reën en vloede en oorversadigde grond kan moontlik nog vloede tot gevolg hê, waarsku Wayne Venter, ’n weervoorspeller by die SAWD.

Venter het Vrydag aan Maroela Media gesê tussen 30 en 50 mm word verwag met ʼn selfs hoër reënval oor die bergagtige gedeeltes.

Sterk winde van tussen 30 tot 40 km per uur sal vandag gunstige toestande vir die verspreiding van veldbrande in die sentrale en suidelike dele van die Noord-Kaap, die sentrale en noordelike dele van die Wes-Kaap sowel as die westelike en noordelike dele van die Oos-Kaap skep.

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Dié dele sal waarskynlik vanaf Saterdag ’n kouefront beleef met maksimumtemperature wat tot onder 20 grade Celsius sal daal.

Mooiweer tot matig warm weerstoestande word vir die res van die binneland verwag.

Venter sê die binneland sal nie regtig die kouefront voel nie, aangesien daar nie ’n sterk hoogdrukstelsel agter die Kaapse kouefront is nie.

Brande

Die Stad Ekurhuleni in Gauteng het intussen Vrydag ’n verklaring oor die gevare van veldbrande uitgereik.

Die munisipaliteit versoek motoriste om spoed te verminder wanneer hulle ’n veldbrand langs die pad gewaar aangesien die rook sig belemmer. “Skakel jou hoofligte en waarskuwingsligte aan sodat jy sigbaar is vir ander padgebruikers.”

Motoriste word verder aangeraai om nooit deur ’n dik rookwolk of vlamme te ry indien hulle nie deur die rook kan sien nie.

Indien die motor geparkeer is, skakel die enjin af en maak al die vensters en ander gate toe om te verhoed dat rook die voertuig vul.

Moet nooit die voertuig verlaat nie. “Jou voertuig beskerm jou teen die hitte en rookinaseming, wat die grootste gevare inhou.

“Hou padkaarte in die voertuig ingeval die primêre pad gesluit is en jy ’n alternatiewe pad na jou bestemming moet volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.