Weerdiens waarsku teen moontlike oorstromings

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het dié naweek gesê groot dele van die land kan vanaf Maandagoggend (14 Mei) nat en koue weer te wagte te wees.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die SA Weerdiens, het gesê wydverspreide reënbuie en donderweer word tussen Maandag en Woensdag verwag in die oostelike dele van Noordwes, die Noord- en Oos-Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Doubell sê sommige van dié provinsies staar moontlike oorstromings in die gesig as gevolg van die skielike stortbuie.

Volgens haar bring dié week meestal bewolktheid wat verseker dat dit vanaf Maandag laat koud gaan wees oor die meeste van die oostelike binneland. Sneeu word ook verwag oor die Lesotho-berge.

Doubell sê die kouefront sal reeds Sondagoggend die weskus tref voordat dit later Maandagmiddag ook na Noordwes en die Vrystaat sal versprei.

Hoewel die reën en koue teen Woensdag oor die westelike gedeelte van die land sal opklaar, kan sterk reën nog tot Donderdagmiddag in groot dele van KwaZulu-Natal verwag word – veral in die noordelike gedeelte van die provinsie.

Normale weerstoestande sal volgens Doubell vanaf Donderdagmiddag weer landwyd ervaar word.

Die weerdiens sê dit is belangrik dat voorsorgmaatreëls geneem word vir moontlike vloede oor dié tydperk:

  • Indien dit moontlik is, bly binne en weg van die paaie af.
  • Vermy riviere en strome waar water dieper as jou enkels is.
  • As jy in ʼn oorstromingsituasie vasgevang word terwyl jy in ʼn voertuig is, laat jou voertuig agter en beweeg na hoër grond.
  • Beweeg waardevolle items binne geboue na ʼn veilige plek bokant die verwagte vloedvlak.
  • Verskuif diere na ʼn veilige plek op hoër grond in landelike gebiede.
  • Verlaat jou huis onmiddellik indien ontruiming deur die owerhede aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Invloed op oestyd ·

Gaan die reen en nat toestande boere wat graan wil oes in enige van die streke nadelig beinvloed? Ek is nie seker of mielies nou droom moet wees om geoes te word nie, of is dit klaar geoes of het dit nie invloed nie?

JohanV ·

Die dele Lichtenbrug, Sannieshof, Delareyville en Ottosdal, Venterdorp en Rysmierbult, het nog nie begin stroop (mielies) nie. Was laasweek deur die gebiede.
Die sonneblomme in hierdie dele is ver van stroop af. Hulle kan nog baat by die reën.
Die reën gaan in die Zeerust & Marico Bosveld gedeelte help met die winterkoring wat nog geplant moet word.

Danie ·

Ja dit sal nadelig wees….maar dit kan ook voordelig wees vir die boer….En die reën nee wat dan kla mens glad nie veral as dit droeë land boere is wat glad nie spil punte het nie.

Wonder ·

Penellope, ek stem volbekkig saam. Dit sal wonderlik wees. Mooi week vir almal met heerlike reën.

Kannaland ·

Eks bly om te hoor die reen gaan die boere kan help in daardie dele van die land, dankie vir julle insig Danie en Johan.

Juffie ·

Wat vir my so vreemd is – vir maande en maande word daar die een versoek na die ander versoek gestuur dat ons moet bid vir reën. Ek “bad” elke dag in 2-5;liter water om verantwoordelik te wees. Nou reën dit of dit gaan reën en nou kla ons weer….nêrens het ek ‘n boodskap ontvang waar daar tyd opsy gesit gaan word om DANKIE te sê nie…..maar dit is seker ook NET IN SUID AFRIKA so

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.