Weerdiens waarsku teen sterk wind, deinings langs Kaapse kus

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het besoekers aan die Wes- en Suidkus gemaan om van Woensdag bedag te wees op hoë deinings en sterk wind wat na verwagting tot die naweek gaan voortduur.

Die weerdiens sê ʼn reeks kouefronte wat suid van die land verby beweeg en hoë deinings sal veroorsaak, sal die kusgebied môreoggend tref. Kragtige deinings van tot 19 sekondes lank gaan na verwagting in die vroeë oggendure langs die Weskus voorkom en die Kaapse Skiereiland vroegoggend bereik.

Dit bring hoë golwe mee. Langs die Kaapse Weskus en Skiereiland kan golwe van 3 tot 5 meter hoog wees, terwyl dit langs die Kaapse Suidkus na verwagting sowat 2 m hoog sal wees. Effens verder van die kuslyn kan golwe selfs hoër as 6 m wees, het die weerdiens gewaarsku.

Sterk wind word ook voorspel.

Die weerdiens sê hoewel die golwe teen Vrydagaand behoort te bedaar, gaan nóg ʼn kragtige deining die kus Saterdag in die vroeë oggendure tref.

“Gevaarlike wind- en golftoestande gaan na verwagting tot Maandagoggend voortduur vir die grootste gedeelte van die Kaapse Wes- en Suidkus.”

Die weerdiens waarsku besoekers aan die gebiede om laagliggende gebiede en strande met groot branders te vermy en bedag te wees op lang kalm periodes, gevolg deur skielike groot golwe.

“Daar is ʼn moontlikheid dat branders oor voetpaaie langs die kan kus breek en verder op strande kan uitspoel as normaalweg.”

Die sterk wind en hoë branders gaan ook rowwe seetoestande tot gevolg hê.

“Bote langs die Suid-Afrikaanse Wes-, Suidwes en Suidkus moet ekstra versigtig wees,” het die weerdiens gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.