Weerdiens waarsku teen swaar reën

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Oranje vlak 5-waarskuwings vir ontwrigtende reën is Woensdag in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap uitgereik, namate voorspelde reën oor groot dele van die land begin uitsak het.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê ʼn laedrukstelsel in die boonste dele van die atmosfeer en ʼn hoëdrukstelsel sou teen vanmiddag swaar reën en wydverspreide donderbuie oor dele van die Ugu- en Harry Gwala-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal meebring.

Ontwrigtende reën sou ook na verwagting oor die Alfred Nzo- , OR Tambo-, Elundini-, Senqu-, Sakhisiswe-, Engcobo-, Mbhashe- en Enoch Mgijima-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap uitsak.

Die weerdiens waarsku teen oorstroomde paaie, nedersettings en brûe, asook ontwrigtende munisipale dienste. “Modderstortings en rotsstortings is ook moontlik,” lui die waarskuwing wat tans in die Oos-Kaap geld.

 

Maroela Media het vroeër berig daar word vanaf Woensdag reën oor groot dele van die land voorspel.

Wayne Venter, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, het vroeër die week gesê dié reënweer word toegeskryf aan ʼn laagdrukstelsel wat na verwagting oor die westelike dele van die binneland sou ontwikkel.

“Die stelsel sal van Woensdag af na die sentrale binneland beweeg en teen Sondag weer verdwyn,” het Venter vroeër vandeesweek gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.