Weerlig eis Gauteng-leerder

Panyaza Lesufi. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, betreur die dood van twee jong leerders wat vandeesweek in die provinsie omgekom het. Albei leerders het buite skoolure gesterf.

Lesufi sê in ’n verklaring ’n graad 5-leerder van Diepsloot in die noorde van Johannesburg is Vrydag deur weerlig doodgeslaan toe sy na skool saam met maats huis toe gestap het. Die meisie was ’n leerder aan die Diepsloot Primary 4 School.

’n Graad drie-leerder aan die Zenzeleni Primary School in Alexandra is tuis in sy slaap  dood na ’n kort siekbed.

Lesufi sê die departement sal Maandag beraders na die onderskeie skole stuur om die nodige ondersteuning aan die skoolgemeenskap te bied.

“Ons wil ons innige meegevoel betoon aan familie, vriende en die skoolgemeenskap gedurende hierdie hartseer tyd. Dit is emosioneel, maar ons sal voortbeur”, het LUR gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat sewe leerders in die eerste week van Februarie in dié provinsie omgekom het.

“Ons het die 2020- akademiese jaar op ʼn baie slegte noot afgeskop, met verskeie sterftes en tragiese voorvalle by ons skole,” het Lesufi vroeër gesê.

Leerders in hospitaal

Nog ’n leerder is in die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg opgeneem nadat sy Donderdag van ’n swaai afgeval het. Lesufi sê die graad 2-leerder aan Lyndhurst Primary School in Lyndhurst is intussen ontslaan en sterk tans by haar huis aan.

Die LUR sê verder sowat 16 leerders aan die Vusisizwe Primary School in Soweto is ook intussen ontslaan nadat hulle Vrydag na ’n plaaslike kliniek gehaas is. Die leerders het lekkergoed waarvan die vervaldatum reeds verstryk het, geëet waarna hulle begin sleg voel het.

Dit volg nadat 39 leerders aan die Lofentse Girls School in Soweto Donderdag in die hospitaal opgeneem is nadat hulle na bewering daggakoekies by die skool geëet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Africangrey ·

Dis tragies, arme kinders, baie sterkte vir die ouers en families, om n kind te verloor is vreeslik, ek weet.

ElizeK ·

Liewe land. Alhoewel dragies, word daar nou vir elke leerling se dood beraders na die skole gestuur. Geld dit vir ALLE skole Lesufi.

Scalla ·

Laat Lesufi sommer die ondersoek na weerlig wat gedoen was n tyd gelede in KZN bekend maak aangesien hy blykbaar oor verskeie talente beskik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.