Weerlose kinders fisiek, emosioneel deur virus geraak

(Argieffoto: pixabay)

Die Covid-19-pandemie het fisieke én emosionele letsels op Suid-Afrika se kinders in kinderhuise gelaat en dit kan nog jare later ʼn invloed op dié kinders hê. Die Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom in Modimolle (Nylstroom) het dié gevolgtrekking gemaak in ʼn verslag wat hulle oor die onsigbare uitwerking van Covid-19 op kinders in kinder- en jeugsorgsentrums uitgereik het. Dié bevindings is Vrydag bekendgemaak.

Volgens Elize Sauer, die kinderhuis se hoof- maatskaplike werkster, het die kinderhuis eerstehandse ervaring oor die uitwerking van die Covid-19-inperking op kinders wat in gevaarlike en ongesonde omgewings woon.

Die kinderhuis het ten tyde van die inperking vir altesaam 170 kinders gesorg, wat in 15 huise op die terrein verdeel is.

Fisieke afsondering

Volgens Sauer het die trefslag van die pandemie begin toe kinders se planne om by hul ouers in die Maart-vakansie te kuier, deur die virus gekniehalter is. Die kinders was teleurgesteld en kon nie begryp dat hul wêreld nou deur ʼn onsigbare virus omvergegooi moet word nie.

“Die kinders en versorgers was beperk tot die kinderhuis se perseel, met niemand, selfs maatskaplike werkers, wat van buite die perseel kon betree nie. Meer druk is op die personeel geplaas om noodsaaklike dienslewering by die kinderhuis aan te pas. Kinderversorgers het tekens van uitbranding getoon omdat hulle langer ure as gewoonlik moes werk. Hulle moes ook heeltyd aan kreatiewe maniere dink om die kinders besig te hou en tussendeur emosionele kinders troos,” sê Sauer.

Weens die inperking is maatskaplike werkers boonop verhinder om betyds in te gryp in situasies waar kinders weerloos gelaat is. Die verwydering van kinders uit gevaarlike situasies en die verkryging van hofbevele om kinders in veilige sorg te hou, is ook belemmer deur die inperking.

Sauer sê die kinderhuis is ook finansieel geraak omdat kinders se behoeftes daagliks eksponensieel toegeneem het. Sy sê die feit dat die kinders elke dag heeldag op die terrein was en dus ook meer voorrade gebruik het, het bykomende druk op die kinderhuis se begroting geplaas.

Sielkundige uitwerking

Sauer sê op ʼn sielkundige vlak moes kinders noodgedwonge ʼn situasie hanteer wat as ʼn “eiland van isolasie” beskryf kan word. Kinders was vir maande lank van besoekers, hul ouers en vriende by die skool afgesonder. Die meeste kinders kon hul ouers vir die eerste keer in Desember 2020 weer sien.

Kinders se interaksie met hul ouers was beperk tot ʼn telefoonoproep, video-oproep of sosiale media.

“Die verlies aan gereelde kontak tussen die kinders en hul ouers is uitgelig as een van die grootste stresfaktore wat die kinders ervaar het. Afgesien daarvan dat kinders na hul ouers verlang het, het van hulle ook met die vrees geleef dat hul ouers weens die virus kan doodgaan en dat hulle hul nooit weer sal sien nie.”

Volgens Sauer kon kinders se verlies in sosiale interaksie met hul ouers en skoolvriende in onbeheerste gedrag gesien word. “Van die kinders het van die kinderhuis probeer wegloop, om geen rede gehuil nie of woedebuie gehad.”

Sauer sê oor die algemeen was die toename in depressie en hartseer onder kinders kommerwekkend.

Sauer sê soos die afsonderingstydperk verleng is, het daar ook ʼn gevoel van moedeloosheid en onsekerheid onder kinders en personeel ontstaan, omdat niemand geweet het hoe lank die inperking nog sal duur nie.

Angs om terug te keer skool toe

“Die kinders het groot angs en vrees beleef om ná byna drie maande van isolasie weer terug te keer skool toe. Skielik word hulle uit ʼn veilige, virusvrye omgewing geruk.”

Sauer sê kinders het ook stres ervaar weens die ekstra eise en uitdagings wat aan hulle gestel is. “Die kinders se idee van skool voor die pandemie was heeltemal anders. Hulle moes skielik aan ʼn hele paar nuwe regulasies en voorwaardes voldoen. Hulle moes sosiale afstand van hul maatjies behou en heeltyd gesigmaskers dra, wat dit moeilik maak om gesigsuitdrukking te identifiseer. Hulle kon ook nie meer aan buitemuurse aktiwiteite deelneem of op klimrame speel nie.

“Daar is ook ekstra eise in die klaskamers gestel – kinders het meer huiswerk gekry en moes teen ʼn vinniger werkpas werk om verlore akademiese tyd in te haal. Van die kinders is akademies teruggehou. Matrikulante het ook gestres dat hulle dalk nie hul eksamens sal kan skryf nie en sodoende hul toekomsplanne eers agterweë sal moet laat.”

Langtermyn-uitwerking

Sauer sê hierdie waarnemings bevestig studies wat daarop dui dat die isolasie, verlies aan keuse en outonomie, asook angs wat deur die pandemie veroorsaak word, langtermyn-implikasies vir kinders inhou. Sy sê daar sal opvolgstudies oor die langtermyn-uitwerking gedoen word.

“Ons kan die uitwerking van die onderbroke skoolbywoning reeds in leerders se lees- en spelvaardighede sien.”

Ondanks die negatiewe gevolge kon die kinderhuis tydens die pandemie wel te alle tye ʼn veilige omgewing vir die kinders bied. Kinders het ook die geleentheid gekry om hul volle potensiaal te bereik en kreatief te raak in die manier hoe hulle hul skoolwerk en ander aktiwiteite binne ʼn beperkte omgewing aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Wzt mense nie besef nie hierdie kindrrs is nie daar omdat hulle daar wil wees nie ….dit is due vrug van ‘n Gemeenskap. ‘n Gemeenskap wzt vergeet vsn fie kinders
Terwyl hulle ons verantwoordelikheid is. Die Staat betaal ruim skenkings iit in die vorm van toelaes maar selfs hulle
Vergeet vsn die kinders en toelaes word nie betaal nie.

Johan ·

Ek sien dit met my eie kinders ook, soos n oumens se vrees vir alles, en dit hou nog aan! Net een koreksie, dit is nie asgevolg van die virus nie dit is asgevolg van ondeurdagte en baie dikwels onnodige regulasies. Baie sterkte aan ons almal met ons nuwe bestel waar mense geen respek vir mekaar het nie en vir jou mag voorskryf sonder om te vra wat se klere jy mag dra en wat se gif jy op en in jou lyf moet spuit, daar is net geen einde nie, mense besit jou lewe en jou lyf! Jy mag nie nee sê nie, dis die wet. Kyk maar hoe die bendes ook hier op MM tekere gaan. Bitterlik Arogant…troos jou maar daaraan dat die Here dit alles sien en hul tot verandwoording sal roep vir wat hul so oordadig aan ons kinders doen om kwansuis die virus te beveg… eendag is eendag.

MakersMark ·

Bla bla bla weer oor die virus. Gaan kyk hoe versprei dit in skole. Wat is die alternatief as streng voorkomings maatreëls? Sodra die inperkingsvlakke val gaan almal terug na hul gewone gewoontes en die virus versprei. Dis nie die virus of die regering nie, dis mense wat weier om te luister. Todat almal ingeënt is sal dit die patroon wees, of kinders en grootmense nou daarvan hou of nie. Gaan God nou mense straf omdat hul reëls in plek sit om lewens te red? Asseblief tog wat ‘n spul snert.

MakersMark ·

So God gaan die straf wat by die wet en reëls hou vir hul en hul kinders ?

MakersMark ·

Dis nie net kinders wat gevolge dra nie wat van swakkes en oues van dae? Maar wat is die alternatief ? Gaan aan soos niks fout is nie hoeveel honderde duisende sal dan sterf ? Elke geslag het sy moeilikheid al van die bestaan van die mensdom af en ander geslagte het dit baie erger gehad as ons. Iemand wat in 1900 gebore is het in 1975 deur twee wêreldoorloë, groot depressie, spaanse griep (al drie golwe), Vietnam en Koreanse oorloeë en ander talle konflikte asook meeste van die koue oorlog geleef. Nou kerm sekeres oor masker dra en afstand handhaaf……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.