Weermag by Eskom, hoekom nou?

Die Tutuka-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

Die ontplooiing van die weermag by vier kragsentrales is Sondag verwelkom. Die vraag word egter gevra waarom dit nóú skielik gedoen word?

Eskom het Saterdag aangekondig dat minstens tien soldate by vier kragsentrales elk ontplooi is. Hierdie kragsentrales is intussen geïdentifiseer as Camden, Grootvlei, Tutuka en Majuba.

“Ons is nie bewus van enige bevestigde gevalle van sabotasie die afgelope week wat die weermag se ingryping vereis nie. Daar was ook nie ʼn toename van gevalle wat die nuwe drastiese ingryping noodsaak nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit.

“Ons het al voorheen daarvoor gevra toe die situasie akuut was tydens die sogenaamde industriële aksie. Daar het toe niks gebeur nie, waarskynlik weens die politieke risiko’s daaraan verbonde. Hierdie keer lyk dit eerder na politieke teater in dieselfde tyd as die ANC se konferensie.”

Die parlementêre komitee vir minerale hulpbronne en energie het die besluit verwelkom en sê lede van die komitee was nog altyd oortuig dat die oorsaak van Eskom se probleme vandalisme en ʼn gebrek aan onderhoud van infrastruktuur is, eerder as ʼn beleidsprobleem.

Die komitee meen egter die ontplooiing van die weermag alleen is nie ʼn voldoende oplossing nie. “Gesprekke oor die stabilisering van die land se kragtoevoer behoort te handel oor tegnologiese metodes om vroeë tekens van misdaad en sabotasie op te spoor.”

Hermann meen die antwoord lê eerder by die versterking van die polisie se hande om hierdie soort misdade te ondersoek. “Misdaad dra ongetwyfeld by tot die hoë vlakke van beurtkrag. Ons herhaal ons oproep dat die antwoord eerder ʼn spesialispolisie-eenheid is wat kan ondersoek en vervolg. Eskom moet ook sy eie ondersoekvermoë verbeter in noue samewerking met die polisie.”

Hy sê hoewel die ontplooiing van die weermag ʼn erkenning van die erns is, is die probleem nie nou mense wat oor mure spring wat ʼn weermag moet keer nie, maar eerder ʼn korrupte netwerk van binne.

Eskom het intussen Sondag aangekondig dat beurtkrag vroeg Maandagoggend na fase 5 afgeskaal sal word en fase 4 sal vanaf Dinsdagoggend geld. Hermann wys daarop dat die stelsel steeds onder druk is, maar dat Suid-Afrikaners dié Kersfees eerder minder as meer beurtkrag kan verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.