Weermag doen stappe oor vergrype van soldate

(Argieffoto)

Verskeie lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is in die pekel nadat inwoners van die Pongola-omgewing in die noorde van KwaZulu-Natal klagte teen hulle ingedien het oor beweerde magsmisbruik, onwettige klopjagte en diefstal.

Die kwessie het in die parlement ter sprake gekom toe die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, daaroor uitgevra is deur VL Shelembe, DA-LP.

Volgens Mapisa-Nqakula het die weermag klagtes ontvang van inwoners van Pongola in verband met onwettige klopjagte op huise, wat deur weermaglede uitgevoer is. Die bewerings was dat die klopjagte sonder lasbriewe uitgevoer is en dat die polisie nie die weermaglede vergesel het soos wat regulasies vereis nie.

Kriminele klagte is by die polisiestasie op Pongola ingedien. Die klagte het onregmatige gedrag, diefstal en aanranding ingesluit.

Benewens die kriminele ondersoek deur die polisie het die weermag ook ʼn interne ondersoek van stapel gestuur. Uit die weermagondersoek het dit geblyk dat die bewerings waar was. ʼn Interne militêre dissiplinêre ondersoek loop dus nou parallel en bykomend tot die kriminele ondersoek.

“Daar sal so streng opgetree word teen die skuldiges dat sulke gedrag nie sommer weer sal plaasvind nie,” het Mapisa-Nqakula gesê. Sy het ook onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die gedrag van die weermaglede en dit ten sterkste veroordeel.

“Dit is nie hoe ons ons werk doen nie en ons vra die mense van Pongola om verskoning. Ons weermaglede is behoorlik opgelei wat dissipline en die uitvoer van klopjagte betref, en ons sal nie toelaat dat die swak gedrag van ʼn paar randeiers die goeie werk van die res van ons hardwerkende en gedissiplineerde lede beduiwel nie,” aldus die minister.

Die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, is deur die minister opdrag gegee om persoonlik toe te sien dat die strengste moontlike optrede teen alle skuldiges gedoen word, en dat spesifieke regulasies ingestel word om ʼn herhaling te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.