Weermag gaan in virusgeteisterde Gauteng help

‘n Covid-19-pasiënt in die Tembisa-hospitaal. (Argieffoto: Guillem Sartorio/AFP)

Die meeste Covid-19-gevalle word steeds in Gauteng aangemeld – sowat 66% van alle nuwe gevalle is in dié provinsie – maar ten spyte van die groot druk waaronder die stelsel is, is daar steeds genoeg kapasiteit om aan die vraag na mediese sorg te voldoen.

Dít volgens die LUR vir gesondheid in Gauteng, dr. Nomathemba Mokgethi.

Mokgethi sê bykomende werkers word ontplooi om die 5 521 mense wat sedert die begin van die maand in sogenaamde Covid-19-poste aangestel is, by te staan.

“Ons stelsel is dalk onder druk, maar ons het steeds die wilskrag en kapasiteit om aan die vraag te voldoen. Ons stel meer gesondheidswerkers aan om te verseker beskikbare beddens funksioneer ten volle,” sê sy.

Die weermag ontplooi intussen ook van sy mediese personeel om kapasiteit in die provinsie ʼn hupstoot te gee.

Mokgethi sê die provinsie het toegewyde Covid-19-beddens wat gekoppel is aan ʼn regstreekse bedbestuurstelsel wat gebruik word om die beskikbaarheid van beddens in die provinsie dop te hou.

“Benewens die nuutgeboude infrastruktuur by onder meer die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal, die Jubilee-, Bronkhorstspruit- en die aangepaste Tshwane-distrikhospitaal, word sale en beddens in ander fasiliteite deurlopend aangepas gegrond op die vraag tydens die pandemie.”

Die provinsie het ook planne in al vyf sy distrikte in werking gestel om die uitwerking van die derde vlaag van die pandemie te verminder. Dit sluit in verskerpte sifting en toetse en die afdwing van regulasies om verspreiding te stuit.

Die provinsie het ook sy inentingsprogram verder verskerp deur meer sentrums oop te stel. Daar is tans 137 aktiewe inentingsentrums – 89 van die staat en 48 private sentrums – nadat agt nuwe sentrums onlangs geopen is.

Die plan is om meer sentrums oor naweke oop te stel. In hierdie stadium doen net die Chris Hani-hospitale sewe dae per week inentings.

Alle openbare entstofsentrums in Gauteng aanvaar instap-besoekers wat ouer as 60 is, ongeag of mense op die regering se aanlyn platform daarvoor geregistreer het of nie.

“Dit is ongetwyfeld so dat ons die wydverspreide oordrag van die koronavirus in al ons gemeenskappe sien. Gauteng het Woensdag vir die eerste keer 7 859 nuwe infeksies gehad. Dit het infeksies in die eerste en tweede vlaag verbygesteek,” sê Mokgethi.

Maroela Media het vroeër berig kenners meen Gauteng betree “onbekende terrein” met ’n derde vlaag van die koronavirus wat dié digbevolkte provinsie moontlik binnekort erger as die eerste twee gaan tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ovelia ·

Kan die weermag nie in dorpe bv Parys kom help om mense in openbare plekke te help dat mense hul maskers reg dra nie. Meeste loop sonder maskers, ander loop mt dt onder die ken. Ek wt bors moeilikheid ht al mt di polisie geprazt die mense luister nie. Hul haal net weer di masker af as di polisie beweeg

Tiptol ·

Ek stem dis ook so by sekere winkels waar dagloners staan en wag vir werk. Niemand dra maskers nie. Mense moet self verantwoordelik vat.

JM ·

Hulle kan nie eers hulself help nie. Wat moet die Weermag kom doen? Seker net soos lg. ge”help” het om die Vaalrivier skoon te kry! Pateties.

Gerrie ·

Ek weet darem nie,hulle kan hulle self nie eers help nie,lagwekkend

RS ·

Suid-Afrika bestaan nie net uit Gauteng nie. Wat van die ander provinsies wat ook swaar kry?

Vonny ·

Ek stem volkome saam met jou. Ons nder provinsiez kry Nèt zo swaar!!! Covid 19 veral vlaag 3 ruk hand uit. ..!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.