Weermag-hoë steeds in pos ná klagtes van seksuele teistering

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) weier om meer besonderhede bekend te maak oor hoekom ʼn senior lid van die weermag steeds by die werk is ná verskeie klagtes van seksuele teistering teen hom ingedien is nie. Die saak teen hom word in September aangehoor en regskenners meen hy moes lankal geskors gewees het, totdat die saak afgehandel is.

Die 53-jarige kolonel is die bevelvoerder van ʼn eenheid binne die weermag wat verantwoordelik is vir die leiding, beplanning en uitvoering van militêre operasies soos die huidige ramptoestand weens die Covid-19-pandemie.

Die klaagsters is almal jong onderoffisiere in die reserwemag wat vir diens opgeroep is. Elkeen is in die onlangse verlede deur die kolonel as sy  persoonlike assistent aangestel, wat behels het dat hulle hom ook op besoeke aan ander eenhede oor die land moes vergesel. Tydens hierdie amptelike besoeke is hulle glo aan ongevraagde seksuele toenadering deur die kolonel blootgestel.

‘n Weermaglid op patrollie tydens die landwye staat van algehele afsondering. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Hy is ʼn getroude man, maar die vroue beweer in beëdigde verklarings hy het hulle gereeld nauurs gebel, op ongeleë tye by hul privaat woonplekke opgedaag, hulle uitgevra en uiters persoonlike WhatsApp-boodskappe vir hulle gestuur waarin hy dit onomwonde gestel het dat hy oor hulle droom en hulle begeer. “Jy moet weet as dit nie vandag is nie, dan is dit môre,” lui een van die boodskappe.

Die kolonel se bevelspos behels spesifiek dat hy besluite oor personeelaangeleenthede moet neem. Al die klaers beweer dat hulle gevrees het hulle gaan nie verder opgeroep word nie. Almal is glo ook gereeld met ontslag gedreig en voor kollegas verneder en geïntimideer nadat hulle sy attensies verwerp het. Só meld verklarings wat Maroela Media onder oë gehad het.

Kapt. Jaco Theunissen, woordvoerder van die SANW, het die klagtes bevestig, maar wou vroeër die week nie aan Maroela Media redes verskaf waarom die kolonel nog nie geskors is in afwagting op sy verhoor nie. Theunissen het beweer dat die sub judice-reël van krag is en hy daarom nie redes hoef te verskaf waarom die kolonel steeds by die werk is nie.

Regskenners het dié antwoord as betreurenswaardig bestempel. Adv. Pikkie Greeff, die woordvoerder van die militêre vakbond SANDU, sê die sub judice-reël kan nie as rede vir die nieskorsing gegee word nie. “Dit word gebruik om te keer dat die uitkoms van ʼn saak beïnvloed word en die vraag oor hoekom hy nie geskors is nie, het niks daarmee te doen nie.

“Dit is weereens ʼn bewys van die dubbele standaarde in die weermag. Troepe word sonder meer geskors terwyl offisiere onaantasbaar skyn te wees. Daar is duidelik twee stelle reëls,” sê hy.

Strafregprokureur Oeloff de Meyer meen dis absoluut onaanvaarbaar dat die kolonel steeds by die werk is en dat die klaagsters verder daardeur benadeel word. “Hy moet eenvoudig nie langer daar wees nie, en ek dink hulle moet verdere stappe buite die weermagmilieu doen,” was sy voorstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jacobus ·

Hoekom verbaas! Sulke gedrag is voorvereiste vir suksesvolle kader. Selfs presidente.

Cornrit ·

Mense, julle noem hierdie n weermag. Dit is n groot sirkus, met narre in beheer. Waar sou jy in die ou ordentlike weermag ondervind het dat n offisier, wat soveel klagtes teen hom gehad het, nog steeds soos normaal voortgegaan het met sy take. Eerstens sou hy geskors gewees het, en tweedens sou die aangeleentheid baie gouer aangespreek gewees het. Daar was mos nie Afrika-tyd ter sprake nie. Dit bly maar net n skande. Ongelukkig is dit die norm deesdae.

Cornrit ·

Jy kan die beste wapens op aarde hê, maar as jou leierskorps nie respek verdien nie, en/of nie bekwaam is nie, moet jy liewer nie in gevegte of konfrontasies betrokke raak nie. Ek is baie bekommerd oor die gehalte van sommige van ons leierskorps en soldate. Disipliene blyk n groot probleem te wees, en korupte lede word nie gou genoeg tot verantwoording geroep nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.