Weermag hou ondersoek na Covid-19-meds geheim

Medikasie vir Covid-19 word in ‘n inloop-yskas gestoor. (Foto: Verskaf)

Die lede van ʼn paneel wat ondersoek moet instel na die weermag se verkryging en onwettige invoer van Kubaanse Covid-19-medisyne, gaan deur die staatsveiligheidsagentskap gekeur word om te verseker dat sensitiewe inligting nie bekend gemaak word nie.

Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het Woensdag tydens ʼn virtuele vergadering aan die parlementêre portefeuljekomitee vir verdediging gesê die keuring sal nie deur weermag-intelligensie gedoen word nie, maar wel deur die staatsveiligheidsagentskap.

“Dit beteken dat die publiek nie toegang tot die paneel se bevinding sal hê nie en selfs die portefeuljekomitee sal in die duister gehou word oor die onwettige invoer,” sê Kobus Marais, die DA se skaduminister van verdediging.

Die weermag het die Kubaanse middel Heberon Interferon alpha-b2, wat vir die behandeling van verskeie kankers voorgeskryf word, verlede jaar teen meer as R260 miljoen by ʼn staatsonderneming in Kuba aangekoop om weermagpersoneel teen Covid-19 te behandel.

Die middel word nasaal toegedien en is volgens die weermag met groot sukses in Kuba gebruik vir die behandeling van Covid-19-pasiënte. Dit word glo ook voorkomend en as beskerming teen die koronavirus gebruik.

Heberon word egter nie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) of plaaslik deur Sahpra aanbeveel as ʼn middel teen Covid-19 nie.

Generaal-majoor Mzikayise Tyhalisi van die weermag se logistieke dienste het  vroeër aan die komitee gesê dat die opperbevel die Covid-19-pandemie as ʼn vorm van biologiese oorlogvoering teen die land gesien het. Hy het dit as ʼn noodsituasie beskryf en gesê die aankope moes dringend gemaak word omdat die middel in groot aanvraag wêreldwyd was.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Argieffoto: GCIS)

Die komitee het die verduideliking bevraagteken en gesê dat dit nie in ooreenstemming is met die regering se benadering tot die pandemie nie en dat die samesweringsteorie lankal verwerp is.

Die weermag se afvaardiging het ook beweer dat dit nie nodig was om die voorgeskrewe aankoopprosesse van die nasionale tesourie na te kom nie omdat daar reeds ʼn ooreenkoms vir wedersydse dienslewering tussen die weermag van Suid-Afrika en Kuba in plek is. Verder was die Kubaanse mediese brigade wat in April verlede jaar in die land aangekom het, bekend met die gebruik van die middel.

Minister Mapisa-Nqakula het erken dat sy onbewus was dat sekere wette oortree word en dat die idee dat die weermag ʼn biologiese oorlog in die gesig gestaar het nog nooit voorheen bespreek is nie.

Marais sê dit lyk of die minister óf heeltemal onbekwaam is om te begryp dat daar wetgewing en protokol bestaan vir die invoer van veral medisyne, óf sy wil nie haar oudkollegas van uMkhonto we Sizwe (MK) en meerderes verantwoordelik en aanspreeklik hou nie.

“Die minister en die militêre bevelsraad stel albei swak dissipline ten toon wat maak dat Suid-Afrikaners hulle nie vertrou nie en wat die openbare beeld van die weermag verder afbreek,” sê hy.

Die weermag het ook aangevoer dat die meer as 900 flessies wat ingevoer is wel nodig was omdat elke persoon volgens die gebruiksaanwysings tien dosisse binne tien dae moet ontvang en die toediening na ses maande herhaal moet word. Die soldate se moraal het glo die hoogte ingeskiet omdat hulle geweet het dat ʼn middel beskikbaar is wat hulle teen die virus kan beskerm.

Prof. Helen Rees en dr. Boitumelo Semete, wat Sahpra se voorlegging aangebied het, het aan die komitee gesê die medisynereguleerder het drie versoeke van die weermag ontvang om die gebruik van Heberon te wettig. Dit was egter maande nadat die eerste besending saam met die Kubaanse mediese brigade hier geland het.

Twee aansoeke is afgekeur en die derde was suksesvol, maar toestemming is slegs verleen om een pasiënt met tien dosisse van die middel te behandel.

Sahpra sê die weermag het sedert Oktober verlede jaar nog geen ondersteunende dokumente aan hulle voorgelê nie en verskeie pogings om met die offisier in bevel van die militêre gesondheidsdiens, kol. Lorraine May, in aanraking te kom, het misluk.

Daar is eers aan die einde van Januarie hierdie jaar met May kontak gemaak en toe is reëlings getref om die ongelisensieerde pakhuis waar die middel geberg word, in die teenwoordigheid van die Valke te inspekteer. May het glo gevra dat die besoek uitgestel word toe sy hoor waaroor dit gaan, maar het wel toestemming gegee dat die besending nagegaan kon word.

Marais sê die hoof van die weermag en sy militêre bevelsraad het gewys hulle ag hulself nie ondergeskik aan die wetgewing en regulasies ten opsigte van medisyne-invoere en finansiële verantwoordbaarheid nie.

Sahpra en die weermag het intussen ooreengekom dat die weermag sal aansoek doen om kliniese proewe met Heberon uit te voer sodat die middel se doeltreffendheid teen Covid-19 bepaal kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sarel ·

Hierdie aanstellings is net om seker te maak dat alles onder die mat k gevee word. Opposissie rig niks uit nie

Kokerboom ·

Belaglik!!!! Dis nou ‘n dwarsklap vir deursigtige regering! Ek benadruk weer: AL die senior weermagbestuur betrokke asook Minister moet summier afgedank word. Ongelukkige werk dit nie so in die regerende regime! Hul opereer asof hul totaal ontasbaar is!!Skreiende skande.

Joe Olivier ·

Ek aanvaar dit is nou dieselfde staatsveiligheidsagentskap wat zuma se sakke elke maand vol geld gestop het. Hulle salarisse word deur uitgemergelde belastingbetalers gedra, maw hulle het ‘n verpligting teenoor ons om eerlik te wees.

Mariana ·

Nou ja toe minister van verdediging en nie idee oor reëls, regulasies en wette nie. Laat mens wonder wat nog so op die onderduimse maniere “ingevoer”word. R260 miljoen vir 900 houertjies medikasie. Ongelooflik!!!

Kabous68 ·

As lid van die SANW vir 33 jaar, vertrou ek glad nie die militêre bevelsraad nie en nog minder die regering. Wens ek kan eerder in die privaat sektor werk.

Groen Ghoen ·

Net een oproep na dr. Wouter Basson kon R260m? gespaar het…. Nou sit Kuba met die miljoene en die belastingbetalers dra die verlies… Lekker man, lekker!

JohanR ·

Word die ondersoek deur die weermag binnehuis integriteitskomitee gedoen. En die minister het NIS geweet. NIKS van Zimbabwe vlug geweet nie. NIKS van die weermag wat R260 miljoen belasting geld gemors het. WAT weet die minister?

Persheks Adri ·

Absoluut niks nie mater sy weet niks eish, maar verdien daai vet salaris…

Gert ·

Dit lyk al meer asof die weermag se generaals hulle bo die wette van die land stel. Dit is net duskant ‘n militêre staatsgreep. Hierdie bliksoldate moet spoedig in die bek geruk word, helfte van hulle behoort nie in die weermag nie en die kamstige minister kan ook maar afgedank word.

Hennie ·

Welkom in SA???? Enigste land ter wêreld waar die blindes dié wat kan sien, moet lei!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.