Weermag in Kaapstad se ontplooiing verleng

‘n Weermaglid op patrollie op die Kaapse Vlakte. (Foto: Phando Jikele/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Weermag se ontplooiing in die geweldgeteisterde Kaapse Vlakte is tot 31 Maart 2020 verleng.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in ʼn verklaring bevestig dat lede van die weermag en reserviste verder bystand aan die polisie sal verleen om misdaad in die Wes-Kaap hok te slaan.

Alan Winde, die provinsie se premier, het verlede week versoek dat die tydperk van die ontplooiing met ʼn verdere ses maande verleng word, maar het sekere voorvereistes daargestel. Winde het in ʼn brief aan Ramaphosa en die minister van verdediging, Nosiviwe-Mapisa Nqakula, gesê dat daar sekere tekortkominge aan die lig gekom het wat dringend aangeroer moet word.

“Al het die weermag tot dusver ʼn belangrike rol gespeel, veral in sy ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Polisie, het ons steeds nie ʼn wesenlike afname in gewelddadige misdade gesien nie. Die polisie kan eenvoudig nie die taak op hul eie vermag nie en daar is nog baie struikelblokke wat oorkom moet word. Geen redelike mens sal tevrede wees of instem dat geweld in die Wes-Kaap stabiele vlakke bereik het nie,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Winde het gevra dat daar duidelike maatreëls ingestel moet word om die strekking van die ontplooiing te monitor.

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sekerheidstudies, stem saam dat daar meer gedoen moet word in dié opsig. “Tot dusver is daar geen inligting of werklike data om mee te werk vrygestel nie. Alhoewel dit nie ideaal is dat die weermag ontplooi word om die gewelddadige situasie onder beheer te bring nie, is dit duidelik dat polisiëring in duie gestort het en dat die plaaslike gemeenskap alle vertroue in die polisie verloor het.”

Winde het bygevoeg dat die plaaslike, provinsiale en nasionale regerings ʼn gekoördineerde poging moet aanwend om die Wes-Kaapse probleme kamp te slaan. “Ons stel ʼn strategie voor wat beter wetstoepassing, gemeenskapstabiliteit en beskikbaarheid sosiale ingryping sal bewerkstellig.”

Burger stem saam. “Die weermag se ontplooiing moet deur die owerhede gesien word as ʼn geleentheid om te bepaal wat presies aanleiding gee tot die gebeure en om die redes, waarom die gemeenskappe nie die polisie vertrou nie, te takel.”

Hy meen korrupsie in die polisie is een van die grootste faktore wat bydra tot die wantroue in die gemeenskap. “Dit is ʼn groot probleem, want baie lede in die gemeenskap meen die polisie is kop in een mus met die bendelede wat geweld pleeg, of hulle aanvaar omkoopgeld, of daar word inligting vanuit die polisie aan die bendes uitgelek oor wanneer klopjagte sal plaasvind.”

Burger verduidelik dat die weermag juis nou die owerhede kans gee om asem te skep en om daadwerklik op te tree teen oortreders. “Die weermag moet nie net doelloos aangewend word nie, dit moet konstruktief wees. Die herstel van vertroue is nie ʼn maklike of kort termyn saak nie. Drie maande sou heeltemal te kort daarvoor gewees het, maar ten minste kan prosesse nou ingestel word om ʼn verskil in die gemeenskap te maak.

Lede van die weermag kom in Blikkiesdorp in Delft aan. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Nog ʼn vereiste is dat ʼn misdaad-georiënteerde benadering gevolg moet word om spesifieke misdade te analiseer en wetstoepassing so aan te pas om dit te bekamp. “Ons moet ʼn duidelike boodskap aan kriminele en gewelddadige groepe stuur dat hulle dopgehou word en dat geen misdaad geduld sal word nie,” sê Winde.

Hy het ook onderneem om ʼn veiligheidskabinet aan te stel, waar hy as voorsitter sal dien. Dit sal daarna kyk om die provinsiale regering, die Stad Kaapstad, die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die weermag saam te bring om ʼn plan van aksie te implementeer vir die volgende ses maande.

Die Wes-Kaapse regering het ook gevra dat syfers bekendgemaak moet word rondom die ontplooiing, insluitend die hoeveelheid ernstige misdade wat gepleeg is tydens die drie maande, die aantal en aard van inhegtenisnemings, hoeveel vuurwapens en ammunisie daarop beslag gelê is, en hoeveel vervolgings tot dusver plaasgevind het.

Winde sê dat die plaaslike regering ook sekere programme op die been gebring het om verdere stabiliteit in die stad te bring. “In Hanover Park het vyf provinsiale departemente en die stad saamgespan om beligting in die strate te verbeter en om maatskaplike gemeenskapsprogramme op die been te bring.”

In Bonteheuwel is 100 veiligheidsoffisiere van Kaapstad ontplooi, “wat amper ʼn onmiddellike effek op die gebied se misdaadsvlakke gehad het, spesifiek die moordsyfers,” het Winde bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michael P ·

Ai waar is die ou weermag van die 70’s en 80’s met n regte lieutenant in beheer Sieboy al die nonsens sommer in 14 dae uitgesort geen skollie sou dit op straat gewaag het nie maar nou ja .

kolla ·

Misdaadvlakke was tussen 1981 en 1993 die hoogste ooit in SA se geskiedenis. Amper tweekeer hoër as nou. Apartheidsmagte kon nie geweld beheer nie…eintlik reeds vanaf 1976 af met al die onluste nie. .

Wonder ·

In die 80’s was weermaglede na die polisie gesekondeer (lotelingstelsel). Hulle het hul tweejaar diensplig in die polisie voltooi en daarna jaarliks hul driemaande grensdiens ook in die polisie gedoen.

Waarom nie iets soortgelyks nou toepas nie. Hulle kan, soos die dienspligtiges van ouds, hul polisieopleiding deurloop met gespesialiseerde opleiding in ’n spesifieke rigting. In hierdie geval, bendegeweld.

sweis ·

Omrede daar geen disipline, eer en lojaliteit in die huidige polisie of weermag is nie,so wat maak dit saak in watter uniform hulle is die resultaat gaan dieselfde wees.

sweis ·

Polisiëring in die hele land het in duie gestort en sou die weermag getoets word om hulle die land te beskerm sou dit presies dieselfde wees met hulle .

Anoniem ·

Ten minste goeie nuus vir die oomblik ! Baie bly vir die inwoners

Blikke ·

Skuus maar watter polisie en Weermag praat julle van???…….

Ana ·

Res van die land??????? Hoekom kry hulle voorkeur????????????Ek betaal belasting?????

Marinda ·

Ana, haven’t you heard? there’s no crime anywhere else in SA.

HC ·

Kos baie geld!!!!
Eerder as doodstraf moet terugbring….
Dan spaar ons geld, GROOT VERSKIL!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.