Weermag in Wes-Kaap ‘goeie korttermynoplossing’

‘n Weermaglid op patrollie in Manenberg in die Wes-Kaap. Die weermag is die afgelope week daar ontplooi. (Foto: Phando Jikele/ANA)

Die polisie in die Wes-Kaap kom nie die mas op nie – veral nie in ʼn gebied soos die Kaapse Vlakte nie – en daarom is dit ʼn goeie strategie om die weermag daar te ontplooi om die polisie se hand te versterk. Dít volgens dr. Johan Burger, ʼn senior navorser aan die Instituut vir Sekerheidstudies.

Inwoners versoek ontplooiing

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn versoek vir die ontplooiing van die weermag sowat twee weke gelede goedgekeur, ná herhaalde oproepe uit die gemeenskap.

Die weermaglede het reeds verlede week in die Kaap aangekom, maar is eers Donderdag ontplooi, nadat die nodige dokumentasie eers afgehandel is.

“Dit is nooit ʼn ideale situasie in ʼn demokrasie om jou militêre mag in die burgerlike samelewing te ontplooi nie. Soms, as ʼn situasie handuit ruk, soos op die Kaapse Vlakte, het jy nie eintlik ʼn keuse nie. Dit is ʼn goeie ding as dit op kort termyn verligting bring sodat jy orde en rustigheid kan skep en die polisie ʼn kans kan gee om sy werk te doen,” het Burger aan Maroela Media gesê.

“Wat dít in ʼn ander sin ook meer aanvaarbaar maak, is dat die ontplooiing nie deur die staat afgedwing word nie. Dit is gedoen in antwoord op ʼn versoek van inwoners van daardie gemeenskappe. Hulle het gevrá vir die weermag. Dus word hier nou voldoen aan ʼn versoek van inwoners.”

Misdaadsyfers al hoër

Volgens Burger is Suid-Afrika se moordkoers sewe keer meer as die internasionale gemiddeld en styg ernstige geweldsmisdaad reeds die afgelope ses jaar. (Die nuwe misdaadsyfers word in September vrygestel en die neiging gaan na alle verwagting voortduur.)

Naas die Oos-Kaap het die Wes-Kaap die hoogste moordkoers in die land. Die Wes-Kaap het volgens die jongste misdaadsyfers 56,3 moorde per 100 000 mense, terwyl die nasionale gemiddeld 35,2 is.

Die meeste van dié moorde vind egter op die Kaapse Vlakte plaas en sou dít buite berekening gelaat word, gaan die Wes-Kaapse syfer waarskynlik ver onder die gemiddeld val.

Vroeër dié maand is 13 mense in ʼn enkele naweek in Philippi vermoor.

In ander voorvalle is onskuldige inwoners, ook kinders, selfs binne-in hul huise doodgeskiet wanneer bendes op mekaar losbrand. Ouers vergesel hulle kinders ná en ván skool, maar nie eens dít is ʼn waarborg vir enigiemand se veiligheid nie.

Burger het gesê mense voel toenemend onveilig en het hulle vertroue in die polisie verloor. “Dan kan jy verstaan dat daar vir die president eintlik geen ander keuse was as om gehoor te gee aan daardie gemeenskappe se oproepe nie.”

Lede van die weermag is vandeesweek in die Wes-Kaap ontplooi, na herhaalde oproepe uit die gemeenskappe. (Foto: Phando Jikele/ANA)

Weermag se rol

Burger sê ʼn tweeledige benadering moet gevolg word: een op kort termyn om die situasie dadelik te stabiliseer en daarna ʼn medium- en langtermynplan om groter probleme te pak.

“Wat die korttermynoplossing betref, is dit reg: bring in die weermag, want die polisie kan nie alleen die mas opkom nie.

“Hulle gaan nie die polisie vervang of ʼn polisiëringsrol vervul nie, maar wel ʼn kalmerende invloed skep sodat die polisie hulle werk kan doen,” sê Burger.

Volgens hom maak die Verdedigingswet voorsiening daarvoor dat die weermag, wanneer die president goedkeuring gee dat hulle op dié manier ontplooi word, dieselfde bevoegdhede as dié van die polisie kry. Hulle kan nie ondersoekwerk doen nie, maar het steeds magte soos om mense te ondervra, in hegtenis te neem of te deursoek.

“Dit gaan ook oor sigbaarheid en om die gemeenskap ʼn gevoel van veiligheid te gee. Jy sién die mense, netjies in hulle weermaguniforms geklee, wat jou omgewing patrolleer.

“Daar is ʼn klomp voordele. Dit is gerusstellend vir gewone mense en die demonstrasie van mag en dissipline is ʼn afskrikmiddel vir misdadigers. Dit gaan mense baie veiliger laat voel en hopelik dink misdadigers twee keer voor hulle in ʼn skietery betrokke raak.”

Burger het gesê die polisie moet dié tydperk gebruik om die sogenaamde baasbreine agter misdaadbendes te identifiseer, aan te keer en voor die howe te daag. Daar moet ook gesoek word na items soos onwettige wapens en dwelms.

Maroela Media het verlede maand berig ses lede van die polisie se eenheid teen bendegeweld is gewond toe daar tydens ʼn operasie in Samora Machel uit ʼn hut op hulle losgebrand is.

Dr. Johan Burger is ‘n senior navorser. (Argieffoto: Reint Dykema)

“Die weermag se teenwoordigheid verleen dus ook ʼn beskermingselement aan die polisie. Die weermag beveilig die gebied, terwyl die polisie met hulle gewone operasies kan voortgaan.”

Die weermag word vir drie maande in die gebied ontplooi en Burger sê die polisie moet seker maak hy gebruik dié tyd doeltreffend om ʼn duik in misdaad te maak.

“As daar nog geen vordering is wanneer hulle onttrek nie, is ons presies waar ons begin het.”

Die ontplooiing kan wél verleng word.

Oorsaak van misdaad

Volgens Burger dra verskeie faktore by tot hoë vlakke van geweld in misdaad in die gebied.

Een daarvan is die uitleg van buurte, soos gesien in die voorval waar die bende-eenheid geskiet is. In sommige gebiede het die polisie geen manier om betyds te reageer nie omdat daar dikwels geen strate is, om nie eens van straatnommers te praat nie.

Huise word byna bo-op mekaar gebou, sommige gebiede is pikdonker en daar is geen water of krag nie – dit maak dit lewensgevaarlik vir die polisie om te ontplooi.

“Dít is nie goed wat die polisie of weermag kan regmaak nie, maar dit skep omstandighede wat deur misdadigers uitgebuit word.”

Volgens hom moet daar op lang termyn gekyk word na die grondoorsake van misdaad in die gebied, hoewel oplossings vir daardie probleme makliker gesê is as gedaan.

Die gebied gaan gebuk onder hoë werkloosheid en groot maatskaplike probleme.

“Daar is goed wat op nasionale en strategiese vlak gedoen moet word om dié probleme te verlig. Die ekonomie moet byvoorbeeld groei, werksgeleenthede moet geskep en armoede verlig word.”

Burger sê die ontplooiing van die weermag moet gesien word as die eerste stap om ʼn klimaat te skep om planne gereed te kry om sosio-ekonomiese en infrastruktuurontwikkeling reg te ruk.

Hy meen dit skep ruimte vir die betrokke departemente om bymekaar te kom, te besin oor die probleme wat bydra tot die situasie, en om dan ʼn langertermynplan in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LR ·

Die weermag moet in elk geval die volgende uitgawes aangaan met belastinbetalers se geld:
Salarisse.
Behuising.
Kleding.
Voedsel.
Vervoer.
Medies.
En vele meer.
Ons is nie in n oorlog nie, dus na hul basiese opleiding is die soldate ledig en totaal onproduktief.
Pas hulle opleiding aan vir die funksie wat hulle nou op die Kaapse Vlakte moet verrig, integreer hulle in die polisie en wend hulle produktief aan.
Ons as SA burgers spandeer miljarde op veiligheid en sekuriteit, ons ry patrollies in ons woonbuurtes met ons eie voertuie.
Die weermag kan al hierdie funksies vervul. Ons land is in elk geval in n staat van beleg deur die moordenaars en skelm, dus is ons tegnies in n staat van oorlog teen hierdie kriminele , dit is besig om ons te verswelg.
As ons hulle saam met die polisie aanwend dan kry ons ‘n bietjie dividende op die geld wat aan die weermag spandeer word.

Martie ·

Askies ne, watse militere mag? Die Suid-Afrikaanse weermag?hahahahahahahahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.