Weermag moet nou krag oppas

Foto ter illustrasie. (Foto: Facebook / Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag)

Die regering het lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontplooi om die land se kragsentrales teen vandale te beskerm.

“Eskom kan bevestig dat lede van die SANW vanmiddag by vier kragstasies ontplooi is,” het die kragvoorsiener Saterdag gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan AFP gesê ʼn minimum van tien soldate sal tydens ʼn “eerste fase” by elke perseel ontplooi word. Bykomende ontplooiing sal volg.

“Die ontplooiing is gedoen in reaksie op die groeiende bedreiging van vandalisme, diefstal en korrupsie by kragsentrales,” sê Magwenya.

Dit is nog nie bekend presies waar die soldate ontplooi is nie.

Die kragvoorsiener is lankal bekommerd oor toenemende diefstal en vandalisme by sy kragstasies, wat lei tot bykomende verlies aan kosbare opwekkingskapasiteit. André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het ʼn jaar gelede reeds gesê dat verskeie voorvalle van grootskaalse onderbrekings by kragsentrales sabotasie blyk te wees. De Ruyter het vandeesweek as hoof van Eskom bedank.

Bykomende inligting deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.