Weermag nie in Oos-Kaap teen bendes ontplooi

Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, en die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Mongameli Bobani, gesels met motoriste.

Die weermag gaan nié in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap ontplooi word nie.

Dít volgens premier Oscar Mabuyane wat Port Elizabeth se noordelike gebiede Dinsdag besoek het. Hy is vergesel deur die provinsiale polisiehoof, lt.genl. Liziwe Ntshinga, en die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Mongameli Bobani.

Volgens die premier maak die polisie goeie vordering in die stryd teen bendebedrywighede in die provinsie.

“Daar kan nie vrede en sekuriteit wees as ons mense van wapens moet vlug nie. Ons verklaar oorlog teen bendebedrywighede, misdaad en dwelms. Ons gaan elke struikelblok wat in die pad van ons mense en ons regering staan, verwyder – veral misdaad. Ek is baie verontrus om jong mense te sien rondhang, eerder as om by die skool te wees,” het Mabuyane gesê.

Mabuyane het die polisie se 10111-noodoproepsentrum besoek en gevra dat die kamerastelsel wat reeds daar geïnstalleer is, gebruik word om misdaad in die metro te bekamp.

Hy het ook verskeie skole besoek.

Een daarvan is die Strelitzia Primêre Skool, wat verlede week gesluit is nadat ʼn beweerde bendeverwante skietery naby die perseel uitgebreek het. Weens vrese vir leerders se veiligheid is die skool tydelik gesluit.

In Mei vanjaar het strydende bendes by die skoolhek op mekaar losgebrand en selfs die skoolterrein binnegegaan. Skoolhoof Clinton Jantjies het destyds gesê dít is ʼn alledaagse gebeurtenis en dat die skool dringend ʼn heining benodig om kinders teen bendelede te beskerm.

Verskeie skole in dié gebied is die afgelope twee maande gesluit weens ʼn vlaag moorde wat met bendes verbind word.

Die voorsitter van die provinsie se portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit het onderneem om die skool teen volgende week te laat omhein. Die hoëlui se besoek Dinsdag volg op ʼn oornag-polisieoperasie waartydens beslag gelê is op agt onwettige vuurwapens, 14 koeëls en 6 000 mandrax-tablette.

“Die stryd teen misdaad en die uitwissing van bendebedrywighede is ʼn prioriteit vir die provinsiale administrasie. Misdaad raak ons alledaagse lewe, ontwikkeling en sake. Ons wil saam met julle werk. Ons wil julle nie voorsê nie, maar ondersteun. Ons moet die gemeenskap, gemeenskapspolisiëringsforum en sakelui betrek en ʼn sosio-ekonomiese aanslag volg,” het Mabuyane gesê.

Volgens Ntshinga het die polisie ʼn langtermynplan om ʼn permanente bende-eenheid in die provinsie te vestig.

“In dié stadium het ons lede van verskeie ander gebiede opgeroep. Ons is ook baie dankbaar vir die 12 voertuie wat ons sigbaarheid en reaksietye gaan verbeter,” het sy gesê.

Die polisie het die nuwe voertuie die afgelope week in gebruik geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.