Weermag ontken eenheid ‘wat martel en moor’ se bestaan

(Argieffoto ter illustrasie: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is bewus van die “kommerwekkende” bewerings van ʼn eenheid binne die weermag wat glo by ontvoerings, marteling en selfs moord betrokke is, maar ontken ten sterkste dat só geheime eenheid bestaan.

“Vir die rekord, daar is geen militêre spanne in die weermag wat bestaan ​​om dade van marteling en moord vir watter redes ook al uit te voer nie,” het brig.genl. Siphiwe Dlamini, woordvoerder vir die weermag, Donderdag gesê.

Die weermag beskou hierdie bewerings in die “ernstigste lig”.

“Ons kan dit sonder enige twyfel duidelik stel dat die weermag binne ‘n grondwetlike en demokratiese staat funksioneer waar alle regeringsinstellings aan demokratiese beginsels van die staat voldoen.

“Daarom kan die weermag, soos enige ander staatsdepartement, vir enigiets onder die loep geneem word indien dit lyk of dit teenstrydig is met die Grondwet en die Handves van Menseregte en dit moet binne die raamwerk van openheid en deursigtigheid gedoen word.”

Dlamini sê dit is belangrik om daarop te let dat die bewerings van ‘n ernstige aard is “en ‘n mens sou verwag dat diegene wat sulke inligting versprei, sowel as hul bronne, ʼn verpligting het om sodanige misdaad by wetstoepassingsowerhede aan te meld”.

Die verdoemende bewerings sluit in onder meer dat die weermag betrokke is by die ontvoering van Abdella Hussein Abadiga, ’n vermeende selleier van Isis, en sy lyfwag Kadir Jemal Abotese.

Die twee Ethiopiërs is einde Desember verlede jaar by Mall of Africa in Midrand ontvoer.

Daar word beweer dat drie voertuie, wat geregistreer is in die naam van ‘n frontmaatskappy wat deur die SANW se spesmagte besit word, in die winkelsentrum se parkeerarea was toe Abadiga en Abotese op 29 Desember 2022 verdwyn het.

Dlamini sê egter die weermag het reeds in September vanjaar aangedui dat dié saak deur die Valke, militêre polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hanteer word.

“Die saak word ondersoek en is voor ‘n hof en die SANW kan nie kommentaar lewer oor die saak nie.”

Open Secrets het intussen Donderdag ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as opperbevelvoerder, gerig waarin hy gevra word om dringend in te gryp by die beweerde misdadige bedrywighede in die weermag.

Dié burgerregteorganisasie het ook skrywes aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur oor marteling, dr. Alice Jill Edwards, en die VN se spesiale rapporteur oor buitegeregtelike of arbitrêre teregstellings, Morris Tidball-Bin, gerig.

Open Secrets vra in die skrywes vir ‘n internasionale ondersoek na buitegeregtelike teregstellings en moorde binne die Suid-Afrikaanse weermag.

Die DA het ook reeds ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die hoof van die SANW, genl. Rudzani Maphwanya, ingedien, waarin Maphwanya versoek word om ʼn afskrif van die Moorhouse-ondersoekverslag oor beweerde misdadige bedrywighede in die weermag aan die DA te verskaf.

Maroela Media het vroeër berig die SANW het glo ʼn raad van ondersoek onder leiding van brig.genl. John Moorhouse aangestel om klagtes van beweerde misdade binne die weermag te ondersoek.

Die getuienisse van verskeie mense is volgens Open Secrets as deel van die ondersoek aangehoor en getuies het glo ʼn verhaal van korrupsie, ampsmisbruik en marteling van onder meer burgerlikes vertel.

Dit is meer as ses maande ná die afhandeling van die ondersoek en die daaropvolgende voorlegging daarvan aan Maphwanya, en die verslag is steeds nie openbaar gemaak óf voor die portefeuljekomitee oor verdediging in die parlement ter tafel gelê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pawiljoen Rot ·

Hoe stupid dink hulle is mens? Asof hulle nou enigsins die bestaan van so ‘n eenheid sal herken. Waar ‘n rokie is, is ‘n vuurtjie.

Marius ·

MMMMM waar n rokie trek …….. , en n regering wat alles eers ontken tot iemand dit oop vlek.

koos ·

Ek kan met 100% vetroue bevestig dat die huidige regime wel ‘n gewettige terreurgroep ondersteun en selfs aanmoedig – sars

Johann ·

Ja shure. Die ANC gaan nie hulle absolute mag.en lag gebruik tot hulle eie voordeel nie. Sidder om te dink waarmee hulle actually mee wegkom.

Dieter ·

Nou ja, soos ons al die Sirius ken, is alles wat often word, waar, en wanneer dit uiteindelik oopgevlek word, is dit gewoonlik weer die apartheid era se skuld.
Al so moeg vir al hierdie ontkennings melodies.

Michael ·

Daar is seker nie iemand wat gedink het hulle sal dit erken nie. Ek dink nie dat dit te ver van die waarheid is dat sulke eenhede bestaan nie

Michael ·

Die sogenaamde weermag kan nie eers doen wat hulle moet nie wat nog van nog take behalwe eet en slaap.

Yvonne ·

Nou waar kom die rokie vandaan as daar nie n vuurtjie is nie…..iemand het inligting….krap daai kole oop!!

Arno ·

Ongelukkig kan mens nie die woord van ‘n regeering vertrou wat ‘n patologiese leuenaar is nie. Mens weet nooit wanneer hulle regtig die waarheid vertel nie. Hulle eie skuld dat hulle sulke reputasie op gebou het.

Papsak ·

Ag asb n Army se liewers sirkus kan dit van hulle verwag geen dissipline nie klomp narre !!!!!!!

Bolandse Nooi ·

Gewoonlik, as die een of ander ANC-kader of staatsdiensbeampte sê: “Dit is nie so nie …”, dan moet jy maar vir seker weet: DIT ÍS SÓ!!! Leuens loop uit hul monde soos water uit ‘n oopgedraaide kraan (o, ekskuus – dís ook mos nou al deesdae ‘n probleem, nes kragvoorsiening, is daar nie altyd water as jy die kraan oopdraai nie …).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.