Weermag, polisie moet gapende grense help bewaak

Mense staan in Desember in ellelange toue by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. (Argieffoto)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake het gevra dat beduidend meer weermag- en polisielede by die land se grense ontplooi word in ʼn poging om Suid-Afrika se gapende grense, veral tydens die Covid-19-pandemie, beter te beskerm.

Daar was die afgelope ruk talle berigte van nie net chaos by die amptelike grensposte nie, maar ook van honderde mense wat die land oënskynlik onwettig probeer binnestroom.

Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het vroeër gesê tot 500 Zimbabwiërs word daagliks aangekeer omdat hulle die land onwettig probeer inkom.

Adv. Bongani Bongo, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê hy het waardering vir die weermag se teenwoordigheid op die landsgrense verlede maand nadat die komitee vroeër gevra het vir dringende ingryping. Bongo sê die regering moet ook met sy vennote in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) saamwerk om oplossings te vind vir die huidige probleem met mense wat die grens oorsteek.

Bongo het ook sy kommer te kenne gegee oor die stand van sake by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe, asook die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Hy sê die situasie hou boonop die gevaar in dat dit ʼn superverspreider van Covid-19 kan word.

Duisende mense het vandeesweek dae lank in ellelange toue by Lebombo gewag om die grens oor te steek. Dieselfde tonele het vroeër by Beitbrug afgespeel.

“Die beweging van mense in en uit Suid-Afrika, veral deur die Beitbrug- en Lebombo-grenspos, sou uit die staanspoor chaoties wees, gegewe die groot getal mense wat die grensposte gebruik. Dit was die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse regering en die regerings van buurlande om strategieë en planne uit te werk om die toestroming van mense in albei rigtings te hanteer – beplanning wat ooglopend nie gedoen is nie,” het Bongo gesê.

Hy het sy steun gegee vir die gesondheidsvoorwaardes wat gestel is voordat reisigers in die land toegelaat word en sê dit vorm die grondslag van die stryd teen die verspreiding van Covid-19.

Bongo sê terwyl praktiese oplossings vir die probleme nog nie gevind is nie, moet oorweeg word om die grensposte tydelik te sluit.

“Hoewel ons die maklike beweging van mense oor grense voorstaan, moet dit binne die raamwerk van die wet en regulasies wees. Wetteloosheid ondermyn die gees en bedoeling van internasionale samewerking,” het Bongo gesê.

Hy het ook benadruk dat verhoogde sigbaarheid van beamptes op die landsgrense ʼn afskrikmiddel gaan wees vir mense wat Suid-Afrika onwettig probeer binnekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.