Maroela Media het Donderdag berig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) beweer dat ‘n weermaggeneraal wat glo onder die invloed van alkohol was soldate gemobiliseer het om ander soldate en senior offisiere uit ‘n polisiekantoor te bevry nadat hulle by ‘n sjebien in hegtenis geneem is.
“Die weermag neem met kommer kennis van berigte in die media oor die beweerde voorval…dat daar ‘n konfrontasie tussen lede van die weermag en die polisie was,” het brig.genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, in ‘n verklaring gesê.
“Die weermag sal die infanterie se verslag oor die voorval en die berigte in die media bestudeer ten einde die presiese omstandighede rondom die voorval vas te stel.” Hy sê die saak word behandel met die erns wat dit verdien.
Die polisie in die Wes-Kaap wou egter nie bevestig of die 31 mense wat in die sjebien in Oudtshoorn in hegtenis geneem is, soldate is nie. “Die kantoor kan die arrestasie van 31 mense Vrydagaand tydens ‘n soekoperasie by ‘n ongelisensieerde drankperseel bevestig,” het lt.kol. Andre Traut gesê.
“Die indiensnemingstatus van diegene wat in hegtenis geneem is kan nie bekend gemaak of bevestig word nie. Hulle is op ‘n skulderkenningsboete vrygelaat.”
Adv. Pikkie Greeff van Sanwu het gesê talle soldate en senior offisiere is Saterdagaand tydens ‘n klopjag by ‘n berugte onwettige sjebien in Bongilethu in hegtenis geneem. Greeff beweer die weermaggeneraal het onwettiglik gewapende soldate en vegvoertuie gemobiliseer om die soldate en senior offisiere te bevry.
The Star berig dat die generaal na die polisiestasie gegaan het en dat die polisie geweier het om die soldate vry te laat. Die generaal het toe glo sowat 120 troepe gemobiliseer. Die polisie het glo die polisiekantoor se deure gesluit en hulself bewapen. Daar het egter nie ‘n skietery plaasgevind nie en die soldate is vrygelaat.
Traut kon egter nie die inligting bevestig nie. “Ons kan bevestig dat die polisie ‘n saak van intimidasie teen drie individue ondersoek wie se indiensnemingstatus ook nie bevestig kan word nie.”
Lees ook:
Senior offisiere vas by sjebien; generaal ontbied glo troepe
“Brandewyn” het nie brieke nie.
Maroela spel “shebeen” aanmekaar verkeerd
Hier moet asb tog nie iets in die land gebeur waar die weermag moet optree vir beskerming. Hulle sal “useless” wees.
Vertrou hierdie ernstige insident word nie ook onder die mat ingevee nie soos die
1. Wapenskandaal
2. 700+ korrupsie-aanklagte teen Nr 1.
3. Guptagate
4. Nkandla
Watwou, Emile! Dit sal nooit onder die mat ingevee word, waar dit net weer kan uitkruip om een of ander plastiekgeneraaltjie aan die hakskene te kom byt nie. Nee wat. Dit sal sommer net daar in die onwettige brandewyn of sorghumbier versuip word! Het SANWU nie dan self gese daar sal eers “opgetree” word omdat en nadat die spulletjie aan die media uitgelek het nie?