Weermag teen perlemoenstropers ingespan

Polisie hanteer gekonfiskeerde perlemoen. (Foto: SAPD)

Die weermag is vandeesweek in die Overstrand-munisipaliteit ontplooi in ʼn poging om die voortgaande onwettige stroping van perlemoen aan hierdie deel van die Wes-Kaapse kus te probeer hokslaan.

Die stap is deur dr. Annelie Rabie, burgemeester van Overstrand, verwelkom.

“Die onwettige stropery is reeds vir meer as 20 jaar ʼn veiligheidsrisiko vir mense wat langs hierdie kus woon. Ons vertrou die weermag se teenwoordigheid sal vrugte oplewer,” het sy in ʼn verklaring gesê.

Dit is nie die eerste keer dat soldate ingespan word om wetstoepassers, insluitende die polisie en inspekteurs van Cape Nature en die departement van bosbou, vissery en omgewing by te staan in die stryd teen perlemoenstropery nie.

Foto’s op sosiale media is al meermale in die verlede geplaas wat toon dat stropers oop en bloot hul werk doen. Die beperkinge wat tydens die Covid-19-pandemie op vervoer gegeld het, het aktiwiteite wel tydelik effe laat afneem, het ʼn inwoner aan Maroela Media bevestig.

Soos baie ander lede van die publiek wil sy nie openlik oor die probleem praat nie. Hulle meen dat perlemoensmokkelary reeds so ʼn intrinsieke deel van die gebied se ekonomie geword het, dat dit nie sommer uitgewis kan word nie.

Tog skryf die redakteur van Overstrand Herald en inwoner van Kleinmond, Gerard Grobler, gereeld en openlik oor die stropers. Hy sê hulle weet hulle is veilig solank hulle nie met perlemoen in hul besit betrap word nie.

“Meestal wen stropers die kat-en-muis-speletjie… Die sluikhandelaars het ʼn komplekse en doeltreffende stelsel om die owerhede te ontduik. Dit begin by korrupte amptenare wat hulle waarsku wanneer wetstoepassers op pad is,” meen Grobler.

Die uithaal, vries, vervoer en uiteindelike verskeping van die perlemoen na die Chinese mark word volgens Grobler telkens deur verskillende mense gedoen. Daarom is dit moeilik om hulle vas te trek.

Dit help ook nie dat padblokkades net by uitsondering by sleutelpunte opgestel word nie.

Die ondersoekende joernalis John Grobler het in 2019 in ʼn uitvoerige artikel in nog ʼn plaaslike koerant, The Village News, daarop gewys dat die perlemoensmokkelbedryf deur internasionale sindikate vanuit die Ooste beheer word. Plaaslik is al die bekende bendes glo ook betrokke.

Hy het ook aangevoer dat die wanbestuur van die mariene hulpbronne ʼn regstreekse oorsaak is vir die huidige toestand. Die manipulasie van visvangregte het boonop talle vissers in die arms van die smokkelaars gedryf.

Boonop kla inwoners al jare dat die polisie nie hul werk doen nie. Die Wes-Kaapse polisieombudsman, JJ Brand, het reeds in 2019 klaers gelyk gegee wat ontevrede was met die swak reaksie op klagtes wat by die polisiestasies op Hermanus, Kleinmond, Gansbaai en Stanford oor die stropery ingedien is.

Sy verslag het gelei tot ʼn voorneme om die stroop van en smokkel met perlemoen tot voorkeurmisdaad te verklaar, maar daar is geen aanduiding dat dit veel van ʼn verskil gemaak het nie.

ʼn Skeptiese inwoner van Kleinmond het aan Maroela Media gesê: “Die weermag kom van tyd tot hier aan. Helikopters word ook gestuur. Soldate staan met gewere rond en motors word deursoek. Die stropers kruip dan net vir ʼn paar dae weg. Wanneer die soldate padgee, keer alles weer terug na ‘normaal’ en die stropery word oop en bloot voortgesit.”

Dit is nie bekend hoeveel soldate ontplooi is of hoe lank hulle in die gebied sal vertoef nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anoniem ·

Gaan kyk hoe lyk dit op Paternoster, stroper skuite funksioneer voor seevisserye se beamptes op die strand en al wat hulle doen is staan en kyk. Ek het dit self in Desember gesien gebeur.

Pietertjie ·

Ek hoop net nie die weermag kom met Ratels daar aangejaag nie…

Nie Verbaas ·

Die plaaslike vis en chips winkel se eienaar sal meer sukses hê as ons “weermag”. Vir hulle net n geleentheid vir afpersing om meer geld te maak. Kyk maar na ons grense.

Martin ·

As daar nie daagliks en na-ure teen dit opgetree word nie, is dit doelloos, stropers beweeg uit area terwyl weermag ontplooi

Ansie ·

Het die weermag destyds enige verskil gemaak? Daar was toe nie enige inligting omtrent die sukses al dan nie bekend gemaak nie.

Chris dupreez ·

Die stropermafia is net soos die dwelm base. Hulle stuit vir niks en sal nie skroom om dood te maak nie. As jy hulle in die water sien, en jy sien hulle baie maklik want hulle doen dit openlik, moet hulle nie dophou nie en beweeg maar aan, want êrens van n anderplek word die hele area dopgehou deur hulle makkers.

SjN ·

Was die weermag nie ook betrokke by die onsuksevolle Vaalrivier besoedelings projek nie?

Juffrou ·

Én wat word van dié gekonfiskeerde perlemoen? Dit hoor ons nooit.
Seker maar in hulle sakke!?

Witbaard ·

SA het baie jare nie meer n weermag nie. Slegs staats salaristrekkers wat in “camo” uniforms rondloop.

Waarnemer ·

Weermag word gebruik om perlemoen stropers te stuit!!!Bid jou dit aan….n soldaat met n vuurwapen om perlemoen duikers te stop…Hierdie soldate behoort op n vliegtuig te klim en die Oektainiers te gaan help beskerm teen die Russe!!!Oekrainie is belangrikrik vir ons ekonomie….Cyril kry jou g,,, in rat en gebruik die weermag waarvoor die weermag daar is en laat die polisie die perlemoenstropers uit sorteer ..dit is deel van hullem pligte.tsk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.