Weermag tot in sy kern verrot, sê oudhoë

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Henk Kruger/African News Agency)

ʼn Voormalige senior offisier in militêre intelligensie en voor dit die militêre attaché in Londen, genl.maj. Sandile Sizani, beweer in ’n voorlegging aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dat die weermag “tot in sy kern verrot is” en onder meer kontrakte van miljoene rande op ʼn bedrieglike wyse toegeken het.

Sizani het reeds in 2018 afgetree, maar het die Zondo-kommissie nou amptelik gevra om tenderkorrupsie, bedrog en onreëlmatighede in die weermag te ondersoek. Hy wil ook voor die kommissie verskyn om oor sy bewerings te getuig.

Hy beskryf sy termyn by teenintelligensie as vier jaar van loutere hel en sê die hoof van die weermag, generaal Solly Shoke, en die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het teenstrydige instruksies oor die bevelstruktuur gegee wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om sy werk te doen.

Albei was ook daarvan bewus dat hy in die wandelgange as ʼn Britse spioen uitgekryt is, maar het nooit opdrag gegee dat aandag aan die gerug gegee word of dit ondersoek word nie. Verder het twee van sy vroulike ondergeskiktes na bewering opdrag ontvang om hom van seksuele teistering aan te kla, maar albei het geweier en hom daarvan vertel.

Sizani beweer ʼn derde vrou was wel in 2018 bereid om ʼn klag teen hom te lê en sy het toe beweer dat hy haar ses jaar vroeër seksueel geteister het. Hy is intern aangekla, maar die uitslag van die ondersoek teen hom is nooit bekend gemaak nie.

Sizani verwys in die verslag na verskeie voorbeelde van korrupsie en vrugtelose uitgawes wat nooit ondersoek is nie. ʼn Mede-generaal in militêre intelligensie het na bewering R1 miljoen aan omkoopgeld van ʼn privaat maatskappy ontvang en hoewel dit skynbaar ʼn ope geheim is, was geen amptelike ondersoek gedoen nie.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Verskeie kontrakte wat deur Sizani bevraagteken is, word in die voorlegging van 22 bladsye beskryf. In 2014 was hy die fluitjieblaser oor ʼn kontrak van R79 miljoen wat die departement van verdediging aan ʼn privaat maatskappy toegeken het. Maroela Media weerhou die naam van die maatskappy om regsredes, hoewel Sizani dit in sy voorlegging noem.

Die betrokke maatskappy moes ʼn sogenaamde analitiese hulpmiddel aan die weermag verskaf, maar ʼn forensiese ondersoek deur Deloitte het later bevind dat die weermag nie waarde vir geld met die kontrak ontvang het nie. Teen daardie tyd is hul reeds R45 miljoen betaal, waaronder R3,8 miljoen vir ʼn bestuurstelsel wat inderwaarheid gratis aan militêre intelligensie geskenk is deur ’n rekenaarwetenskapstudent van Wits.

Sizani sê sy vrae oor die kontrak het ontstaan toe hy besef het daar word maandeliks fakture ingedien sonder dat tydlyne of planne vir die aflewering van goedere bestaan. Niemand kon ook vir hom ʼn aanvaarbare verduideliking gee oor waarvoor betaal word nie.

“Dit het vir my gelyk asof ons bloot miljoene in hierdie maatskappy inpomp sonder dat hulle iets lewer,” sê hy in die voorlegging. Hy het verdere betalings aan die maatskappy gestaak, die Deloitte-verslag aan die Valke oorhandig en ʼn klag by die polisie gelê, maar beweer daar het niks van gekom nie.

(Argieffoto)

Hy verwys ook na verskeie veilige huise wat militêre intelligensie bekom het vir amptelike of operasionele gebruik. “Die teenoorgestelde is egter waar,” sê hy. “Die gebruik is dat dit eksklusief en privaat deur van die generaals gebruik word terwyl ten minste een van hulle na bewering sy eie huis verhuur.”

Sizani sê die rede vir die generaal se verblyf in die veilige huis is lagwekkend, maar dis op die hoogste vlak vir hom gesê dat die betrokke generaal glo in die huis moes skuil omdat intelligensie-operateurs uit ʼn Afrika-land hom wou vermoor.

Hy het self wel ʼn aanslag op sy lewe oorleef, beweer Sizani. In 2017 is verskeie skote op hom gevuur na hy sy motor in Sunnyside, Pretoria, geparkeer het. “Ek het net oorleef omdat ek teruggeskiet het want ek is ’n opgeleide soldaat en die ouens het in hul motor gespring en weggejaag.”

ʼn Maand voor sy aftrede in 2018 was hy ook in ʼn geheimsinnige motorongeluk betrokke toe sy voertuig onverklaarbaar van die pad af geloop en teen die syversperrings beland het.

“Ek het dit ook oorleef en ek hoop ek oorleef tot my storie gehoor word,” sê hy. “As ek moet doodgaan, dan is dit so, maar die waarheid sal soos altyd uiteindelik uitkom.”

Die woordvoerder van die Zondo-kommissie, Mbuyiselo Stemela, kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar The Sunday Independent het vroeër berig dat hy briefwisseling tussen Sizani en die Zondo-kommissie oor die voorlegging gesien het wat sê dat sy voorlegging geëskaleer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Werner ·

Wel glo nie dit is nuus nie aangesien die regering die verrotste van die hele spul is.Se liewer wie is nie verrot nie ………………………………………………. so gedink almal is

Thelsa ·

Hoekom is ons nie verbaas nie . . . . . Is daar werklik nog iewers iets wat ons nog nie verwag het nie. Ons kan egter bly wees dat ons nog as ‘n 3e Wêreldland beskou of genoem word. Ek is van mening daar is lande wat meer primitief is waar korropsie nie so deurspek in all vlakke van die samelewing voorkom nie

Mariana ·

Eens SA se trots en nou beteken dit niks. Weereens kan ons die ANC bedank daarvoor. Hulle het van dag een af net verwoesting gesaai. Als onherstelbaar vernietig.

Trotse Boervrou ·

Sandile Sizani, ons het dit darem geweet maar is dankbaar vir jou wat eerlik genoeg is om dit by die naam te noem.

Persheks Adri ·

Bedank die lieflike ANC vir die gemors. Weermag beteken só min en eet net almal se geld hulle is useless. Dis oor die regering sulke mense aan stel wat onbevoeg verby is. Hulle is korrup en magsbehep veral in lockdown. Dank maar af en spaar ons BAIE geld

Nonnie ·

Nou toe, ek twyfel of die man ooit sal getuig…. Ek dink hy moet alles op band sit vir Maroela…. Sou hy skielik ult die weg geruim word, moet dit wyd en syd versprei word……. MAAR DIE GROOT HOFSAAK SAL EENDAG AANBREEK, MET ONS GROOT SKEPPER AS ‘JUDGE, JURY AND EXECUTIONER….. ????????…. Daardie dag gaan vir ALMAL aanbreek…

Jax ·

As die ANC dit meer as n half dag in hule hande en beheer het, is dit klaar totaal vrot. Dus verbaas dit my nie om te hoor dat die Weermag tot in sy diepste binneste totaal verrot is nie. Ons algehele verdediging-stelsel is totaal vrot.
Dis baie jammer. Ons het n verdedigingsmag gehad waarop baie lande baie jaloers was.
Die ANC het alles in hierdie mooi land opgevoeter. Die swakste regering ooit!

FM ·

Baie dankie dat Sizani bereid is om ten spyte van sy eie veiligheid, te getuig.

Hier is die Heilige Gees aan die werk en ek bid dat jy altyd beskerm word.

My siening ·

Jy het net beaam wat ek altyd gesê het. Met n weermag soos die hardloop jy in die see in want jy het beter kans om oorlewing met haaie dan met mense wat jou in die rug sal skiet.

MakersMark ·

Ten minste praat jy die waarheid. Eintlik spaarsamig want vrotsleg is die hele waarheid.

Hercules ·

mag ons Abba Vader vir oud gen. majoor Sizani die nodige wysheid en insig gee sodat hierdie verrotte spul in die weermag en cANCerous Govt. vir eens en altyd uitgewis word… mag die Zondo kommissie versterk word om met hul werk saamhede voort te gaan en nou af te handel. Amen

Adam Adriaan ·

Wat vrot nog nie in die staat nie? Alles stink en ruik na die dood!!!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hier gaan ons alweer! Bedrog, bedrog, bedrog…

Yvonne ·

My gebed by die man wat waardes het…mag die Here hom nog beskerm

Nico ·

Die eens waardige weermag is tot niet so ook Denel wat wapentuig vervaardig g het van uitvoer gehalte.

Cornelius ·

Korrupsie op elke vlak. Die Mafia kan iets hier kom leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.