Weermag, vloot ontplooi om mariene lewe te beskerm

Perlemoen (Argieffoto)

ʼn Spesiale gesamentlike veiligheidsmagteoperasie wat in die Overberg in die Wes-Kaap van stapel gestuur is om mariene hulpbronne te beskerm, het reeds aansienlik vrugte afgewerp.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het sedert November begin om patrolliewerk in pantservoertuie op land te doen, terwyl die SA Vloot patrollies in die see in die Overberg- en Strand-gebied behartig. Kapt. Jaco Theunissen van die SA Vloot het Saterdag in ʼn verklaring gesê dié operasie het reeds daartoe gelei dat daar boetes uitgereik en op goedere beslag gelê is met ʼn gesamentlike waarde van R321 116.

Die ontplooide SANW-personeel is onder die bevel van ʼn gesamentlike operasionele hoofkantoor wat bestaan uit die SANW, die lugmag, die vloot, die militêre gesondheidsdienste, die SAPD en die departement van landbou, bosbou en visserye.

Volgens Theunissen het die Wes-Kaapse taktiese hoofkantoor ʼn basis in Gansbaai gevestig van waar die land- en seepatrollies beheer word. Weermaglede patrolleer al met die kus langs om mariene hulpbronne teen onwettige stroping te beskerm en bote en duikers te verhoed om in die see in te beweeg met die oog op onwettige aktiwiteite.

Hy sê sedert die operasie begin het, is daar al op 1 374 stukke perlemoen ter waarde van R91 500 beslag gelê, asook duik- en ander toerusting ter waarde van R227 116. Boetes van R2 500 is ook al uitgereik.”

Theunissen sê die SANW-magte sal voortgaan met die operasie in die gebied en ʼn sterk teenwoordigheid handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Karen ·

Kan dit nie ook aangewend word om boere lewens ook te beskerm nie? Of is hul dit nie werd nie?

Pieter ·

Ek lees die berig en toe lees ek dit vir n 2de keer net om seker te maak dat ek nie verkeerd verstaan nie.
Wat ek lees is: soldate in pantser voertuie ry op en af teen die kus. Ander manne en vroue vaar op en af teen die kus. Hulle soek en vang perlemoen en marine stropers. Hulle het al amper R400,000 in sukses behaal.
Behalwe as iemand nou vir my vertel dat die belastingbetaler finasier nie hierdie ding met miljoene rande nie sal ek ongemaklik wees met die hele klug.
Ek ken stroper se kind en glo my, brullende voertuie, ‘n see vol vaartuie plus manne en vroue in uniform myle vêr (op land en see) sigbaar en hoorbaar is, is n klug. Die bietjie sukses tot dusvêr is 90% agv inligting deur die plaaslike bevolking en 10% geluk.
Bring n spesialis eenheid op die been wat stroping in al sy fasette ken op die been (soos dit jare terug al gedoen moes gewees het). Nou is my belasting geld mos in goeie hande!!
Eish!!

Gemaskerde Sopbeen ·

As die weermag ingespan word om die landsgrense wat soos ‘n sifdraad lyk te herstel en te patroller………..sal 90% van die misdaad wat in hierdie land gepleeg word ook nie gebeur nie. Dan sal die polisie meer as genoeg “resources” hê om dit misdaad wat hier voorkom te kan hanteer. Dan kan elke baksteen wat in duisende kilometre veiligheidsmure vasgemessel is, vir almal wat ‘n huis verdien een bou…………..en dan kan dit begin goed gaan met ‘n land genaamd Suid Afrika………..maar solank jy ‘n pleister op die kanker plak, gaan NIKS beter word nie.

zoom zoom ·

Karen. Daar is ‘n beter kans dat Gigaba of Hlaudi president van SA kan word as wat ons die weermag sal sien wat die ou kommando stelsel se take sal oorneem om BOERE te beskerm

Stephanie Theron ·

Dit is omtrent tyd – die kuslyn word genadeloos gestroop hopenlik kan hulle red wat nog oor is om te red!

marous ·

Boetes van R2500 is uitgereik ? Die smokkelaars is seker nou bankrot .

Johan H. ·

Ek vat die een met n graaf sout..die veilihheidsmagte eet ook seekos.. prioriteitte hier is bietjie misplaas. Maar as hulle darm net besig lyk is dit al n bonus.

Cherokee ·

Klompie jare gelede het die Suid Afrikaanse Vloot in samewerking met die Vloot van Indië patrollies uitgevoer in die Mosambiekse kanaal om seerowery aan bande te lê. Die seerowers is gesofistikeerde seemanne wat met ligte vaartuie tot sover as Maritius vaar.

ben ·

1300 Perlemoene in ñ maand afgevat. Haha. Dit is een duiker se buit in een dag. Hier by ons gaan daar op ñ goeie dag 300 duikers per dag in.
Wat ñ joke. Hulle mors tyd en geld. Die poachers lag vir hulle.

Hb ·

Die weermag ten minste nou iets gekry om hulself mee besig te hou……verdien salarisse vir rondsit en niks doen. Enigste tyd wanneer mens wel weermag staf sien is wanneer hulle weermag voertuie misbruik in lunch time of wanneer familie rond gery word oor naweke….

Anoniem ·

Maroela, dis die SA Leër en die SA Vloot wat die operasie uitvoer. Wanneer daar na die Weermag verwys word, beteken dit al 4 bene, naamlik die SA Leër, SA Lugmag, SA Vloot en SA Geneeskundige dienste.(SAGD). Dis verkeerd om na die SA Leër as die Weermag te verwys.

Judge Dredd ·

Natuurlik skitter die nasionale vloot in hul afwesigheid by SA se ooskus waar SA se meesters – die Chinese – onverpoos ons marine lewe uitvis.

Freda ·

is dit nie dalk marine in die hoofopskrif nie. vra maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.