Weermag wil lugsteun na KZN ontplooi

Oorstromings in KwaZulu-Natal. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

Die Suid-Afrikaanse weermag sê daar is Dinsdagaand met voorbereidings begin om vliegtuie en helikopters na vloedgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal te ontplooi.

Genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die weermag, sê die situasie in dié provinsie word tans deur die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur – waarvan die weermag deel is – hanteer.

Maphwanya sê daar was spesifiek ’n versoek vir lugsteun.

Die weermag sal ook van sy ingenieursdienskorps beskikbaar stel om te help met skadebepaling en herstelwerk, terwyl hulp verleen sal word om mense en goedere te vervoer, indien nodig.

“Ons kry ook hulp van ander basisse. Selfs al is ’n nasionale ramp nog nie verklaar nie, kan ons as verdediging nie toelaat dat mense sterf nie,” sê hy.

Lt.genl. Siphiwe Sangweni, hoof van gesamentlike operasies, sê sommige van die weermag se vliegtuigloodse is nes dié by die polisie se lugvleuel in die gebied oorstroom en bates kon nie dadelik ontplooi word nie.

Minstens een helikopter is intussen reeds in die streek ontplooi om met noodlenigingswerk te help.

“Te min helikopters” laat mense in die steek

Volgens die Vryheidsfront Plus is daar egter veels te min helikopters beskikbaar om voldoende hulp te verleen, terwyl die dodetal in KZN toenemend styg.

“Die polisie se lugvleuel in Durban het klaarblyklik een werkende helikopter beskikbaar, maar die vlieënier is siek en ’n ander vlieënier is van Nelspruit ontbied om te help,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront (VF) Plus.

Hy meen lugwaardige helikopters is egter ’n nasionale probleem.

“In Bloemfontein is glo net een uit drie polisiehelikopters tans in ’n werkende toestand.

“Die weermag (SANW) se vyftiende eskader in Durban het ook geen helikopter beskikbaar om te help nie. Dié eskader het blykbaar wel twee werkende helikopters, maar volgens die VF Plus se inligting word hulle tans in Gqeberha (Port Elizabeth) aangewend waar daar sedert begin verlede jaar geen werkende polisiehelikopter beskikbaar is nie.”

Groenewald sê die polisie se diens in die lug is in baie gevalle “net so swak soos op grondvlak”.

“Hierdie stand van sake is onaanvaarbaar en laat lede van die publiek in die steek.

“Die gebrek aan lugsteun tydens die vloede kan direk daartoe bydra dat mense sterf wat andersins moontlik gered sou kon word.”

Die party sê die nuutaangestelde polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, sal die helikoptersituasie as prioriteit moet hanteer, aangesien die polisie se lugvleuel en veral die helikopters ’n groot rol in die bestryding van misdaad speel.

“Lugsteun is veral van groot waarde, waar gesoek word na voortvlugtendes ná misdade soos motor- en vragmotorkapings.

“Onlangse voorleggings van Denel en Krygkor aan die parlement se portefeuljekomitee vir verdediging het ook duidelik uitgewys dat die SANW se lugvermoë ernstig verswak is.

“Die kommerwekkende aspek hiervan is dat die situasie deurgaans verswak en indien dit voortduur, sal die land binnekort feitlik oor geen lugdiensvermoë beskik nie.”

 

  • Bykomende bron: Christel Cornelissen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Misky ·

Hulle moes gister al ontplooi geword het, want Sondag het ons al waarskuwings van swaar reen ontvang. Hulle is net nooit gereed om die land te dien nie. Laasjaar Julie mos dieselfde gesien.

Spotty ·

Hulle sal opdaag wanneer alles verby is, net soos met die “Looting”

Benn ·

Waar… ek vra waar in jou lewe!!!…het jy al sulke swak bestuur belewe!!!

domheks ·

ALLES val uitmekaar – daar is geld vir NIKS. Net kaders se sakke bult!

Christa ·

Niks werk nooit nie…nie eers die regering nie! Nie ñ verrassing vir ons nie.

FC ·

Mnr Ramaposa, hoof van Suid Afrika, waarom is daar geen helikopters beskikbaar nie?

Ken ·

Weermag?? Lugsteun?? My oorle Pa wat trots in die 60s/70s Mirages gevlieg het in die regte SA Lugmag lag nou lekker daar bo!!!

casper ·

Wat ‘n grap !!
Die eens sterkste lugmag in Afrika is nie eens meer ‘n skadu van oor nie !!!

Jacobus ·

Ek dank ons hemelse Vader, dat ek nie van ons “weermag ” vir my redding afhanklik is nie. Die ANC is of was nog nooit ‘n politieke party, en het nog nie “regeringsvermoë” ontwikkel, want kundigheid, ervaring, meriete, integriteit, werksetiek en lojaliteit teenoor landsburgers was nog nooit as vereiste vir aanstelling as amptenaar of politikus gestel nie. Die enige kwalifikasie, is dat jy deel van die “struggle” moes wees. Baie van die verwoesting kan gewyd word aan struggle amptenare, wat nie hulle werk kon of wou doen nie.

Werner ·

Hoe swakker die ANC se weermag, hoe beter. Dink jouself in wat hulle met n sterk weermag sal doen…

Yvonne ·

Tragies hoe letterlik en figuurlik gesproke is land verval het.

madels ·

O my liewe genade, wat gaan nou NOG buite werking wees? Wat gaan nou NOG verval? Alles maar alles val uitmekaar in hierdie land. Is dit nie verskriklik nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.