Weermaglede dié naweek al in Tuinroete

(Foto: SANParke/Facebook)

Lede van die weermag kom Vrydag in die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap aan as deel van verskerpte pogings om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het die streek wat vroeër as ʼn koronavirus-brandpunt verklaar is, die afgelope week besoek.

Die besluit om die weermag saam met die polisie in die gebied te ontplooi het hewige kritiek van die DA ontlok wat sê Cele verkies om branderplankryers op die strand rond te jaag en sonbaaiers en drawwers op promenades te konfronteer terwyl misdaad in die land bykans buite beheer is.

Gerhard Otto, rampbestuurder by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, sê die polisie en weermag sal beraadslaag oor die besonderhede van die ontplooiing.

“Die ingryping kom terwyl meer as 350 polisielede [weens Covid-19] in isolasie en byna 800 polisielede in kwarantyn is. Diegene wat in kwarantyn is, was in noue aanraking met diegene wat positief vir Covid-19 getoets het.”

Altesaam 40 weermaglede sal na verwagting in die gebied ontplooi word. Hulle gaan in Hartenbos en Sedgefield tuis.

Volgens Otto kan hy nie bevestig presies watter gebiede die weermaglede gaan patrolleer nie, maar dat dit waarskynlik sal wissel soos wat inligting oor verontagsaming van die regulasies ingesamel word.

‘n Branderryer by Langebaan was onder diegene wat vir oortredings van die regulasies in hegtenis geneem is. (Skermgreep: SA Polisie)

“Dit is belangrik dat mense seker maak dat hulle aan die afsonderingsregulasies voldoen want as hulle dit nié doen nie, kan hulle ʼn misdaadrekord kry.”

Die polisie het vroeër onder meer ʼn video op sosiale media gedeel van ʼn vlieërplankryer wat in Langebaan aan die Weskus in hegtenis geneem is vir oortredings van die regulasies.

Die DA se Andrew Whitfield het vroeër gesê dit is ʼn erkenning van mislukking deur Cele om die weermag in te roep terwyl die polisie se begroting amper dubbeld dié van die weermag is en daar meer as 187 000 polisiebeamptes is teenoor die weermag se 75 000 lede.

“Sekerlik het die polisie die hulpbronne om ’n paar branderplankryers op hul eie te kan hanteer?”

Whitfield het gesê dit lyk of nasionale veiligheidspersoneel misbruik word om die outoritêre agendas van ANC-ministers te dien wat vasbeslote is om te beheer eerder as om te regeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.