Weermaglede nie in hof ná sjebien-voorval

Argieffoto

Argieffoto

Twee van die drie weermaglede wat daarvan beskuldig word dat hulle polisielede van Oudtshoorn gedreig het, het versuim om verlede week in die hof te verskyn, het The Star berig.

Die aanklagte hou verband met ʼn voorval in Mei verlede jaar waar polisiebeamptes soldate by ʼn ongelisensieerde sjebien in Oudtshoorn in hegtenis geneem het.

Die drie mans, ʼn generaal en twee kolonels, word daarvan beskuldig dat hulle gewapende soldate en vegvoertuie na die polisiestasie gemobiliseer het om hulle kollegas te bevry. Hulle het glo ook polisiebeamptes gevloek en gedreig om die polisiestasie met ʼn stootskraper plat te vee.

Die beskuldigdes, brig.genl. Xolani Mankayi, kol. Nkhabu Nthejane en lt.kol. Siphiwo Mphahlwa Mankayi, het in November vir die eerste keer in die hof verskyn. Twee van die beskuldigdes het egter nie verlede week vir hul volgende verskyning opgedaag nie en kan nou moontlik in hegtenis geneem word.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het verlede maand aan die parlement gesê dat die polisie agt lede van die weermag by die sjebien in hegtenis geneem het. “Twee soldate het skuld erken en het ʼn boete van R200 elk betaal. Die ander ses soldate het in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en die saak teen hulle is teruggetrek weens die feit dat hulle dagvaardings verkeerd was,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ladybug ·

Skreiende skande! Dis nou hoë offisiere wat hul soos barbare gedra en verwag dat ander hul respekteer!? Skandelik SANW, Skandelik!

scalla ·

geen respek/dissipline, dis hoekom dit orals so gaan waar hul probeer in beheer wees.

EEE ·

Dit is absoluut onaanvaarbaar. word ook nerens elders in die nuus gerapporteer nie! Geen meer dissipline in ons magte nie, nie die SANW, SAP nerens nie. Uniforms word nie meer met trots gedra nie! dink eintlik werklik hulle moet weer verpligte diens inbring vir die jeug dat hulle kan dissipline en respek geleer word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.