Weermaglede ter see vermis

Tweede Strand. Foto: www.safarinow.com

Tweede Strand. Foto: www.safarinow.com

Twee lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) word vermis nadat hulle glo in die see by Port St. Johns se Tweede Strand in die moeilikheid beland het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het een van die mans Saterdag in die see geswem en in die moeilikheid beland. Die ander man is glo in die see in om hom te probeer bystaan. “Hy het ook in die moeilikheid beland en ooggetuies het gesien hoe albei mans onder die water verdwyn.”

Brig.genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, het dit aan Maroela Media bevestig. Volgens Mabanga word daar militêre oefeninge in die omgewing gedoen. Die twee mans was van diens af toe hulle besluit het om strand toe te gaan.

Volgens die NSRI het ʼn helikopter van die lugmag tot laatnag na die mans gesoek maar sonder sukses. Die soektog is Sondagoggend hervat deur lede van die polisie se duikeenheid, die Oos-Kaapse nooddienste en lede van die weermag.

Die NSRI het gesê die een man is van Pretoria en die ander een van Oudtshoorn. Mabanga kon dit egter nie onmiddellik bevestig nie en het gesê die weermag sal later ʼn verklaring uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SW Burger ·

Strand waar sw in sy grootwordjare die see leer ken het. Relatief veilige strand, maar Pa het ons beduie wanneer en waar om nie in die water te gaan nie. Jammer dinge het verkeerd geloop vir die manne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.