Weermaglede verhoor wat glo by militêre basis inbreek

Die kiste waaruit die wapens gesteel is. (Foto: Facebook)

Die parlement se gesamentlike staande komitee oor verdediging het die komende verhoor van twee weermaglede wat verbind word met die inbraak en diefstal by die Lyttelton- militêre basis verwelkom. Die gesteelde aanvalsgewere is ook teruggevind.

Maroela Media het vroeër berig twee lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in April in hegtenis geneem nadat hulle glo in Desember 18 R4-gewere en drie vuurwapens uit die Lyttelton-weermagbasis in Pretoria gesteel het.

“Die vinnige ondersoek en samewerking deur die gesamentlike ondersoekspan moet geloof word,” lui ʼn verklaring van die parlement.

Volgens die verklaring was die komitee bekommerd oor die diefstal van militêre eiendom en inbrake by militêre basisse in die land. Dit is die derde diefstal by ʼn militêre basis in die afgelope drie jaar.

“Die inbrake ondermyn die gesag van die staat en hoe meer dit gebeur, hoe meer vrae gaan ontstaan of daar behoorlik na hierdie wapens omgesien word. Ons moet nie wag vir die volgende inbraak voordat ons ons veiligheid by die basisse versterk nie, ” sê Cyril Xaba, die medevoorsitter van die komitee.

Intussen het die komitee sy steun beklemtoon vir die uitbreiding van indiensneming van 20 000 lede van die SANW vir die tydperk 27 Junie tot 30 September, teen ’n verwagte besteding van R1,5 miljard. Dit word gedoen in reaksie op die Covid-19-pandemie.

“Van die opvallendste ingrypings in die stryd teen Covid-19 is die 39 primêre gesondheidsorgspanne, bestaande uit 185 lede (36 dokters, 84 verpleegsters en 65 hulppersoneel) wat in al nege provinsies ontplooi is en 180 ingenieurs ter ondersteuning van die departement van water en sanitasie in al die provinsies. Die komitee versoek die SANW om voort te gaan met sy goeie werk in hierdie verband,” lui die verklaring.

Die komitee het ook ʼn beroep op die departement van verdediging gedoen om tegnologie op te skerp by die landsgrense. “Alhoewel die komitee daarvan bewus is dat die fiskale ruimte waarbinne die departement werk, beperk word, glo hy dat die diversifisering van vermoëns sal verseker dat ons grense veilig is.”

Die komitee het ook die ondertekening van die Wet op die Grensbeheergesag verwelkom, wat die vermoë om die land se grense te beveilig, moet bevorder.

Luidens die verklaring het die komitee hom daartoe verbind om die grens, veral gebiede wat kommer wek, te besoek om noodsaaklike ingrypings eerstehands te beoordeel en sodoende die grense van Suid-Afrika te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eiervrug ·

En hulle straf?. Seker dat ulle lunch breaks vir die volgende 2 weke opgeskort word….

Anoniem ·

18 R4 gewere en 3 vuurwapens? Ai tog, kry asb iemand wat weet waarvan hulle praat.

Persheks Adri ·

Nou hoe kom hulle daar in en is die wapens gebruik? Uiters nalatig laat dit nou 1 van ons was! Wat is die uitslag van die verhoor?

Groot hoed moet sy eie mense en die lot ontwapen NIE ons NIE!!!

Sarel ·

Minister Cele, gazn jy nou die Soldate ook laat ” ontwapen”

Retha ·

Geskors met volle salaris? Dit is mos hoe dit met hulle werk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.