Sewe verdagtes het Donderdag in die Namakgale-landdroshof buite Phalaborwa in Limpopo verskyn in verband met openbare geweld in die gebied. Dít volg nadat paaie na die dorp dae lank met boomtakke, brandende buitebande en klippe versper is en winkels gedwing is om te sluit.
Een van die verdagtes is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Tshepo Malungani (53); die ander verdagtes is Ngwako Monyela (30), Katlego Malatji (29), Maredzi Malatji (34), Lebogang Shokane (28), Khali Malatji (32) en Joe Masilo Mashale (48).
Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans bly in aanhouding. Hul saak is tot 20 April uitgestel vir hul aansoek om borgtog en verdere polisie-ondersoek.
Die verdagtes is in hegtenis geneem toe paaie in Phalaborwa versper is. Die R71 en R40 is op 9 April met takke, klippe en bande wat aan die brand gesteek is, versper.
Die gewelddadige betogings het die gebied ontwrig en kinders kon nie skool toe gaan nie, mense kon nie werk toe gaan nie en winkels was gesluit. Afleweringsvoertuie kon ook nie die dorp binnegaan nie en dié voertuie is genoop om terug te draai. Toeriste kon ook nie die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek bereik nie.
Bykomende polisiebeamptes moes ontplooi word om die geweld onder beheer te bring.
Peter Malatji (50) en ʼn 35-jarige vrou, Mavis Malatji, was die eerste twee inhegtenisnemings. Hulle is op 12 April in hegtenis geneem. Hulle het intussen in die Namakgale-landdroshof verskyn. Mavis het inmekaargesak net ná daar bepaal is dat hulle in aanhouding sal bly. Sy moes onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem word. Peter en Mavis sal albei ook op 20 April in dieselfde hof verskyn.
Nog inhegtenisnemings word verwag.
Maroela Media het vroeër berig oënskynlike kalmte heers weer vanaf Woensdag in Phalaborwa, nadat betogers van die Ba-Phalaborwa-gemeenskapsforum en die mynmaatskappye Palabora Copper en Foskor Mining Dinsdag eindelik tot ’n vergelyk kon kom. Die gemeenskapsforum is ongelukkig nadat ’n tender aan ’n Gautengse maatskappy toegeken is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Die sewe kon nie vir al die moeilikheid verantwoordelik wees nie. Daar moet nog ‘n hele paar gevang en aangehou word. Wat het die weermaglid met die aanstellings by die myn te doen?
Ons wetstoepassers het geen ontsag vir die wet nie!