Weermaglid sal sit oor moord op vrou

Welcome Sambo (Foto verskaf deur die NVG)

Welcome Sambo (33) is Vrydag in die hooggeregshofsitting in Mpumalanga lewenslange tronkstraf opgelê vir die oortreding van ʼn beskermingsbevel en die moord op sy vrou Wandisile Lucia Khoza.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Sambo en Khoza het saam gebly en het twee kinders.

“Voor die voorval het die oorledene op 22 Mei 2019 ʼn beskermingsbevel teen Sambo bekom. Volgens die voorwaardes wat die hof bepaal het, mag Sambo haar nie aangerand het nie en ook nie gedreig het om haar dood te maak nie.”

Sambo het op 12 Oktober 2021 na die munisipale kantoor in Nkomazi gegaan, waar sy vrou gewerk het. Hy was op soek na haar, maar kon haar nie opspoor nie en het weer die perseel verlaat.

“Hy het later weer na haar werksplek teruggekeer, dié keer gewapen met ʼn vuurwapen en het Khoza opgespoor. Daar was ʼn stryery oor ontrouheid en Sambo het sy vrou verskeie kere met ʼn skerp voorwerp aangeval en verskeie skote op haar gevuur. Khoza is op slag dood. Sambo het van die toneel gevlug.”

Die nadoodse ondersoek het bepaal Khoza is dood weens noodlottige skietwonde.

Sambo het in die hof skuld ontken en aangevoer hy het uit selfverdediging opgetree.

“Staatsadvokaat Eugene Mathebula het die getuienis van verskeie ooggetuies gelei. Mathebula het ook ʼn slagofferimpakverslag ingedien wat deur die oorledene se tannie saamgestel is. In dié verklaring het sê besonderhede verskaf oor die impak wat Khoza se afsterwe op die familie gehad het. Hulle het boonop baie onbeantwoorde vrae oor die manier waarop Khoza gesterf het.”

Ter verswaring van vonnisoplegging het Mathebula die oorledene se ouer suster ondervra. Dié getuienis het gewys Sambo is ʼn gewelddadige persoon.

“Hy is skuldig bevind op albei aanklagte.”

Regter Vincent Ratshibvumo het die persoonlike omstandighede van die beskuldigde in ag geneem, die erns van die oortreding en die belang van geregtigheid. Volgens hom word die samelewing geteister deur huishoudelike geweld. Baie vroue en kinders leef in vrees en kan nie meer vreedsaam in die straat loop om inkopies te doen, iets vir die pret doen, werk toe gaan of vrede by die huis geniet nie. Daar was volgens hom geen rede om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis nie.

Sambo is lewenslange tronkstraf opgelê en is ongeskik verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag is tevrede met die vonnis en ons hoop dat die slagoffer se familie berusting hierby sal vind. Ons loof die goeie werk wat die vervolgingspan en die polisie gedoen het om seker te maak geregtigheid seëvier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.