Weermaglid sterf in motorongeluk

(Argieffoto)

’n Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is dood toe hy, twee kollegas en ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) Saterdag in ’n motorongeluk in Mpumalanga betrokke was.

Die lede het ’n verdagte motor vermoedelik vol vuurwapens in ’n polisievoertuig agternagesit toe die motorongeluk tussen Sibambhayane en Thulamahashe naby Bosbokrand plaasgevind het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Sondag in ’n verklaring gesê die lede het inligting oor ’n verdagte silwerkleurige Volvo ontvang waarna hul dié motor opgemerk en probeer voorkeer het. Die bestuurder van die motor het egter weggejaag en ’n hoë-spoedjaagtog het gevolg.

Die bestuurder van die polisievoertuig het egter beheer oor die voertuig verloor. ’n 29-jarige lid van die SANW het in die voorval omgekom.

Volgens Hlathi het die lid se twee kollegas, albei 28 jaar oud, en die 23-jarige polisiebeampte ernstige beserings in die voorval opgedoen.

Al vier insittendes van die polisievoertuig is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling waar die SANW-lid by sy aankoms dood verklaar is. Sy twee kollegas is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het intussen sy medelye met die SANW-lid se familie betuig. “Die afgestorwe lid en sy kollegas het hul lewens toegewy om die land te dien, sowel as om te verseker dat die burgers veilig is en voel,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

antieke antie ·

hoe bevoeg is almal wat agter die stuurwiele van die staatsvoertuie toegelaat word??? …. ek weet van baie wat defnitief nie eers n donkie kar kan hanteer nie

SomeOne ·

dit kos “skill” om ‘n voertuig agterna te sit, wat nog van ‘n volvo wat regtig sy sokkies kan optrek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.