Weermaglid wat vrou skiet, kort nuwe regspan

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Jacob Marakalla (35), ʼn voormalige korporaal van die weermag se BBP-eenheid, moet voor 27 Julie nuwe regsverteenwoordiging kry.

Marakalla word daarvan beskuldig dat hy verlede jaar vir Carine van Staden (28) ten aanskoue van haar verloofde in spitsverkeer in die noorde van Pretoria geskiet het.

Marakalla, die voormalige motorbestuurder vir die weermag se hoof vir gesamentlike operasies, genl. Barney Hlatshwayo, staan in die Pretoria-Noord-streekhof tereg op aanklagte van poging tot moord, roekelose of nalatige bestuur, die versuim om op ʼn ongelukstoneel stil te hou en die rig van ʼn vuurwapen.

Johan van Staden, Carine se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy dogter en Marakalla was Maandag vir die vierde keer weer saam in die streekhof waar die saak weereens uitgestel is. Dié keer is die saak uitgestel aangesien Marakalla intussen afgedank is ná sy inhegtenisneming in April in verband met ʼn gewapende rooftog in Limpopo.

“Carine was gister reg om te getuig, maar dit was weereens net ʼn vinnige uitstel. Die beskuldigde se advokaat het verskyn om homself aan die saak te onttrek aangesien die weermag nie meer vir sy dienste gaan betaal nie,” het Van Staden gesê.

Landdros Piet Nel moes die saak noodgedwonge tot einde Junie uitstel om Marakalla die geleentheid te gun om nuwe regsverteenwoordiging te vind.

“Dit was nou die vierde keer dat die saak uitgestel is. Dit is nogal frustrerend, maar die landdros het genoem dit is iets wat buite sy beheer is.”

Marakalla het op 8 November sy eerste verskyning in die streekhof gemaak waar hy onskuldig gepleit het op al die aanklagte teen hom. Die saak is toe en nóg ʼn keer daarna uitgestel aangesien daar nie ʼn Afrikaanse tolk vir Carien beskikbaar was nie.

Die saak is op 31 Mei vir ʼn derde keer uitgestel aangesien Marakalla kort voor dié verskyning in Limpopo met die gereg gebots het.

Marakalla is op 23 April saam met nog twee verdagtes in hegtenis geneem op aanklag van roof. Marakalla, Lucas Mudau (42) en Rendani Edzani (42) is in hegtenis geneem kort nadat ʼn hardewarewinkel in Dzanani buite Louis Trichardt beroof is.

Die Limpopo-polisie het destyds gesê die drie het glo ook werkers by die hardewarewinkel van hul selfone beroof voor hulle met ʼn Volkswagen Jetta van die toneel gevlug het. Die polisie is in kennis gestel en het die wegkommotor gewaar en agternagesit. Die motor is voorgekeer en die drie verdagtes in hegtenis geneem.

Marakalla (voor in die pak) buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Volgens die polisie is daar op die dag van die inhegtenisneming beslag gelê op vier motors, waaronder ʼn BMW 540i wat aan die weermag se BBP-eenheid behoort, balaklawas, twee 9 mm-pistole, kontant en twee blou ligte. Daar is ook vasgestel dat die Jetta wat gebruik is vroeër in Johannesburg gekaap is.

Marakalla kon op 31 Mei net vlugtig in die Pretoria-Noord-streekhof verskyn aangesien hy nog in aanhouding in Limpopo was en die volgende dag daar in die Dzanani-landdros moes verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Hy is daarna op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig Carine is op 10 Augustus verlede jaar geskiet toe sy en haar verloofde, Johan Harmse (30), van Daspoort op Harmse se motorfiets op pad was na vriende in Montana. Marakalla was glo in ʼn amptelike weermagvoertuig en het Harmse se motorfiets skrams getref en weggery.

Die paartjie het die voertuig agternagesit en by ʼn verkeerslig voorgekeer, waarna die insittende in die voertuig Carine op ʼn kort afstand in haar linkerbors geskiet het. Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Marakalla voer aan hy het gedink sy voertuig word gekaap. Hy is nooit amptelik in hegtenis geneem nie en is op waarskuwing vrygelaat nadat hy uiteindelik op 5 Oktober vir die eerste keer in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn het. Sy saak is toe na die streekhof verwys aangesien dié meer gesag het.

Carine moes intussen talle operasies ondergaan en sterk nog by die huis aan.

Lees alle vorige berigte oor Carine van Staden op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

liz ·

En dit is die tipe mense waarmee ons elke dag mee moet saamleef??

Nossob ·

n Weermag lid skiet n vrou, word nie gearesteer nie? Die selfde ou gebruik staats eiendom om gewapende roof te pleeg. hy kry borg?
hoekom mors ons verder tyd en geld op die vent? sluit hom toe en kry klaar!!!!!

Kannaland ·

Tog sit Penny in die tronk vir net wat sy se, en die doodskis ouens vir dreigemente. Die man mag sommer skiet en kom weg daarmee.

Helene Heyns ·

….en as ek reg lees sou sy advokaat betaal gewees het deur die weermag as hy nie gearresteer is vir gewapende roof nie. Lekker man, lekker.

JSO ·

@Kannaland – Penny is nie in die tronk nie – Vicky Momberg is.

Kannaland ·

Jy is reg JSO, en dit versterk my punt. Penny het baie swaer gekry en doen nogsteeds. Vicky sit in die tronk, en die generaal loop rond na dubbele misdaad wat wapens en geweld en uitbuiuting van magsposisie insluit. Dit is ‘n groot skande.

Griki ·

‘n Weermaglid skiet ‘n vrou trompop in die bors (poging tot moord), maar sy werkgewer betaal ‘n advokaat om hom te verdedig. Dieselfde weermaglid word gevang vir gewapende roof en word deur die weermag afgedank. Is dit omdat die vrou wat hy geskiet het wit was? Ek sou graag die rede wou weet waarom hy nie in hegtenis geneem was na die skietery nie.

Eben ·

As jou velkleur reg is dan word jy beroemd verklaar as jy witmense moor of poging aanwend om te moor of/en beroof. Onteiening nie net van eiendom nie, maar mense se lewens ook.

Dirk ·

Die ou is gevang in n voertuig wat gekaap was met pistole en balaclavas wat weg gejaag het van n rooftog. Hy is OOK aangekla in n ander saak oor die skietery van mej van Staden….. en hy kry borg? Hoe op dees aarde is dit moontlik? Jis, ou Zuma moet Marakalla se prokureer in diens neem. Hy sal nooit die binnekant van n tronk sien nie.

Andre ·

Marakalla skiet ‘n blanke vrou tromp-op en word nie eens in hegtenis geneem nie. Daarna beroof hy ‘n besigheid en kry R10 000 borg. Benson en die KFC en doodskis-manne kon nie borg kry nie. Enige iemand wat dit kan verklaar? Of is die antwoord so voor die hand liggend dat mens nie sulke vrae moet vra nie?

Charl ·

Dit is die rede waarom ek gekant is teen die herinstelling van die doodstraf.Die sg.regbank het twee stelle wette.

Afrikaanse Knaap ·

So as hy ‘n vrou skiet word hy nie afgedank nie. Maar laat hy nou beroof, dan word hy afgedank? Hoe belaglik en bespotlik… hierdie regering.

Nossob ·

Hy is nie afgedank omdat hy geroof het nie. Hy is afgedank omdat hy gearesteer is.

Fritz ·

Lees ek reg!!?? Nie net vasgetrek vir roof nie, maar ook skiet hy n vrou tromp op, en loop vry buite rond op borg????

Arme Vicky Momberg is vir VEEL minder agter tralies gesit! Maar meneer kom niks oor.

Ek het tans GEEN MAAR GEEN vertroue in ons regstelsel nie. Wetgewing word selektief toegepas soos en waar goedgedink word.

Dit maak mens SIEK SIEK SIEK.

Sluit hom TOE ·

HOEKOM SIT HY NIE IN DIE TRONK SOOS DIE BOERE WAT VIR POGING TOT MOORD AANGEKLA IS NIE?????? Dit is nou die diefstal en kapingsaak UITGESLUIT!

Diana ·

Eerstens, die lid is nie afgedank nie…..
Tweedens, die weermag betaal nie vir sy advokaat nie…..
Relax

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.