Weermagombudsman bevind teen weermag in Collins Khosa-saak

Collins Khosa. (Foto: Facebook)

Die weermagombudsman het bevind die weermaglede wat betrokke was by die dood van Collins Khosa het onbehoorlik en onregmatig opgetree.

Khosa is dood nadat weermaglede, asook lede van die polisie en metropolisie, laatmiddag op 10 April by die gesin se huis ingekom en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die afsonderingsregulasies oortree. Hulle het na ʼn kampstoel en ʼn halwe glas alkohol in die erf verwys. Daarna het hulle die huis bestorm en beslag gelê op twee biere.

Sy weduwee, Mphephu, het in ʼn beëdigde verklaring gesê hulle het buite die huis bier oor Collins se kop uitgegooi, hom gewurg, teen ʼn sementmuur gestamp, hom met ʼn geweerkolf geslaan, geskop, geklap en weer geslaan. Hulle het glo ook sy swaer, Thabiso Muvhango, aangerand. Mphephu voer aan sy is met ʼn sambok geslaan.

Collins is later die aand dood.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het Donderdag in die parlement terugvoer oor die ondersoek gegee.

“Verskeie wandade is ongelukkig deur die soldate begaan terwyl hulle besig was om na alkohol te soek. Die ombudsman het bevind dat die amptelike optrede van die lede onbehoorlik, onregmatig en ʼn oortreding van die gedragskode, die operasionele orde en die reëls van betrokkenheid was,” het die minister gesê.

“Die ombudsman het aanbeveel dat gepaste dissiplinêre stappe teen die bevelvoerder van die peloton en diegene wat saam met die bevelvoerder was, gedoen word.”

Die minister het aan die parlement gesê sy het reeds aan die hoof van die weermag geskryf en hom opdrag gegee om aan die ombudsman se aanbevelings te voldoen.

ʼn Strafregtelike ondersoek na die voorval duur intussen voort, het Mapisa-Nqakula gesê.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Argieffoto: GCIS)

“Hierdie was bloot ʼn administratiewe proses oor of die soldate behoorlik opgetree het toe hulle die Khosa-familie se perseel binnegegaan het.”

Die DA het die bevinding verwelkom en sê dit bring hopelik ʼn mate van berusting vir Khosa se familie en vriende.

“Toe die soldate in Mei in ʼn skokkende wending deur weermagleiers en min. Nosiviwe Mapisa-Nqakula van blaam onthef is, het die DA gevra dat die weermagombudsman die kwessie ondersoek,” het Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, gesê.

“Die weermag se sogenaamde ondersoek was uit die staanspoor chaoties met die minister wat hiernatoe en daarnatoe was oor die status van die ondersoekverslag wat tot verwarring en later ʼn regstelling deur haar gelei het.

“Die betrokke soldate is nie eens getug voor die hof beveel het die weermaglede en die lede van die Johannesburgse metropolisie wat betrokke was, moet geskors word nie.”

Marais het gesê die ombudsman se bevinding is die eerste werklike stap om die wetstoepassers wat hulself tydens die afsonderingstyd aan wreedheid skuldig gemaak het, aanspreeklik te hou.

“Talle Suid-Afrikaners het gely onder die wreedheid van diegene wie se werk dit is om burgers te dien en te beskerm. Suid-Afrikaners is ongebreideld vertrap en verneder en het tot nou geen hoop gehad dat geregtigheid sal seëvier nie.”

Marais het gesê die DA gaan genadeloos voort om te verseker diegene verantwoordelik vir Khosa se dood boet daarvoor.

“Suid-Afrika het nie ʼn minister nodig wat ongeregtigheid onder die mat invee nie. Ons het ʼn verdedigingsminister nodig wat haar burgers sal beskerm en nie aan die neus rondgelei word nie.

“As min. Mapisa-Nqakula nie aan hierdie basiese vereistes kan voldoen nie, is dit dalk tyd dat iemand meer bekwaam haar plek vul.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anoniem ·

Wie het die weermag se raad van ondersoek uitgevoer, waarin bevind is dat die soldate niks verkeerd gedoen het nie? ‘n Faktotum, die teemaker en afgetrede onder-korporaal?

JohanR ·

Die minister het aan die parlement gesê sy het reeds aan die hoof van die weermag geskryf en hom opdrag gegee om aan die ombudsman se aanbevelings te voldoen. Glo niks wat enige ANC minister doen of se nie. MM hou ons asseblief op hoogte of die hoof van die weermag nou ietsie doen aan die ombudsman se aanbevelings. Verbaas daar is nie deur Ramaphosa nog ‘n ondersoek van stapel gestuur nie. Deesdae word ondersoeke, ondersoek!

NEO ·

Nou hoekom is daar geen BLM betoging nie of is swart op swart geweld nie deel van hulle beleid nie.

koos10 ·

Van die begin af was die soldate se optrede onwettig. Die besit van drank was NOOIT onwettig nie. Sy dood is ‘n gevolg van ‘n onwettige optrede. SANDF begin julle ondersoek hier en kla ALMAL betrokke, krimineel aan. Almal is aandadig vir sy dood.
Dit wys net weer vir my hoe gevaarlik die regering se COVID regulasies is, maar dit kry jy nou as die politikuste net hulle eie sakke wil vul en nie die kennis het om regsgeldige regulasies saam te stel nie.

Adam Adriaan ·

Wys jou wee, tot die weermag is tot in die kern verrot. Soos hulle meesters die sogenaamde regering.

Johann ·

Iemand glo tog sekerlik nie dat die weermag losgelaat is om SA burgers te beskerm nie? Dis deel van Ramapoza en sy Kopdoek Kaders se magspel om te verseker hulle beheer die gewapende magte tot hulle voordeel. Nuwe ere terrorisme deur n OU garde terroriste. Anargie Staat mikpunt om als en almal te beheer.

johanf ·

Die betrokkenes, SAW, SAPD en die van die Metro Polisie, moet voor n Kriminêle Hof verskyn, en gestraf word, soos wat elke landburger sou deurgeloop het, interne disiplenêre stappe beteken niks.
Onthef die betrokkenes summier van hul poste, en daag hulle voor ń hof…..
Kry sommer ń bekwame minister van Verdediging…..

Sarel ·

Wst is haar kwalifikasie pm Minister van Verdediging te wees?

Persheks Adri ·

Wys my ASB 1 minister wat bekwaam is! Ek probeer nog om te dink wie is die “slimste”…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.