Weermagondersoek ná man se dood

‘n Weermaglid op patrollie in Umlazi. (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het haar medelye betuig met ʼn man van Alexandra in Johannesburg wat glo vermoor is, na bewering deur lede van die weermag. Dit terwyl hulle die regulasies van die staat van algehele afsondering afgedwing het.

“Die ondersoek word behartig deur die polisie, die militêre polisie asook die kantoor van die weermagombudsman,” het die minister gesê.

“Ons is in dié stadium nie in ʼn posisie om te sê wat die volgende stap gaan wees nie. As Suid-Afrikaners betreur ons wat gebeur het en ons is spyt daaroor. Ons weet nie wat die omstandighede was nie, maar die ondersoek wat onderweg is gaan meer lig werp en sal die pad vorentoe bepaal.”

Die 40-jarige Collins Khosa is dood nadat soldate hom glo aangerand het. Luidens berigte het die bure gesê ʼn groep mense het ʼn drankie in hul erf geniet toe ʼn soldaat wou weet hoekom hulle drink en nie in die huis is nie.

Nog soldate het glo opgedaag en Khosa is erg aangerand. Toe sy vrou hom later die aand bewusteloos aantref, is ʼn ambulans ontbied. Paramedici het hom dood verklaar, en ʼn saak van moord is aanhangig gemaak.

Mapisa-Nqakula het Suid-Afrikaners verseker dat die “reg sy loop sal neem”. Sy het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om in hul huise te bly vir die duur van die afsondering wat pres. Cyril Ramaphosa afgekondig het om die verspreiding van die nuwe koronavirus te bekamp.

“Mense moet tuis bly. Hulle moenie uitgaan om te gaan kyk wat die soldate in die strate doen nie, of om hulle uit te lok nie.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

“Veiligheidsmagte is nie ontplooi omdat daar ʼn geveg woed of daar onbestendigheid in die land is nie. Hulle word landwyd ontplooi omdat daar ʼn pandemie is, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.”

Volgens die minister is die regering nie onsensitief oor Khosa se dood omdat die regering nie omvattende kommentaar daaroor gelewer het nie.

“Ons laat sak ons koppe in skaamte. Ons het iemand in een van die gemeenskappe verloor. Ons gaan nie verdedig wat gebeur het nie, maar eweneens is dit belangrik vir mense om ons tyd te gun om die omstandighede te ondersoek waaronder die man in Alex gesterf het,” het sy gesê.

ʼn Afvaardiging van die regering en die weermag het Khosa se familie besoek om hul medelye te betuig en hulle is “goed ontvang,” het Mapisa-Nqakula gesê.

Die burgerregtegroep #NotInMyName het die polisie en weermag oor die kole gehaal ná Khosa se dood. Themba Masango, sekretaris-generaal van die groep, het gesê die weermag en polisie is selektief in hoe hulle die wet toepas wanneer hulle die regulasies afdwing.

“Die polisie en weermag was ongelukkig onder skoot vir die afdwing van regulasies gegrond op ras en klas; armer gemeenskappe is die teiken van die wreedheid en ʼn algemene skending van basiese menseregte,” het Masango gesê.

“Die straf vir die oortreding van afsonderingsregulasies is ook nie eenvormig vir gewone mense en regeringsleiers nie.

#NotInMyName het die polisie en weermag se optrede tydens die afsonderingstydperk veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

ES ·

Dis ook darem nie lekker om net heeldag in ‘n sinkhuisie te sit nie. Die regering moes gedink het aan die mense in informele nedersettings en hoe naby opmekaar hulle bly.

Weermaglede is ontplooi om vrede te bewaar en om die reels af te dwing. Niemand het hul die reg gegee om enigiemand leed aan te doen nie. Ek hoop hulle word almal swaar gestraf.

Kobus ·

Es,ek is nie seker nie, maar as ek reg onthou was daar ‘n foto van die oorledene by ‘n rooi motor in sy garage.Daai fabrikaat is nie goedkoop nie,so ek twyfel of die oorledene in ‘n sinkhuis gewoon het nie.Ek stem egter saam, ek sou eerder die SAW en SAPD aanwend om gewld en roof te beperk en nie mense te patroleer nie.Wonder altyd wat voel of dink die politici wanneer hulle werwing doen en hulle stap omring met veiligheidswagte rond tussen die armlastiges.Vannaand smul hulle lekker en sluk ‘n heerlike maal met duur wyn af.Voel hulle ooit skuldig? Dit is hartseer

Pampoen ·

As sy sê dat die mense nie die weermag moet uitlok nie, impliseer dit dat sy klaar besluit het dat die weermag onder provokasie opgetree het en onskuldig is. Dit word bevestig deur die feit dat die vermeende oortreders nog nie gearresteer is nie.

Anel ·

Die arme man was in sy tuin! Niemand het gesê jy mag nie eers in jou tuin wees nie! Ek dink hulle was kwaad omdat hy nie vir hulle van sy drank wou gee nie. Toe rand hulle hom aan, gaan IN sy huis en konfiskeer dit. Sluit die spul toe en gooi die sleutel weg.
En hef sommer al die inperkings op dat mense net hul lewens kan aangaan. Dit is beter om siek te word as om doid te gaan van honger of on vermoor te word.

antieke antie ·

was hy saam met vriende….dan wonder ek was hy in sy tuin en vriende by hom of hy by vriende se huis?

Paul ·

Ons wag in spanning minister dat julle die skuldige arresteer, of probeer julle dit toesmeer!!

Piet parys ·

Hoekom stel die ryk elite nie hulle luukse wonings oop vir die arm swart mense in plakkerskampe wat vir hulle gestem het nie . Ek wonder wanneer die arm meerderheid wakker sal skrik en besef dat dit slegs die top 2 % wat anc gestem het wat al vooregte genieit . Ek daag daai ministers van die ANC uit om vir n week in n 3×4 meter sink huis gaan sit en dan kan voel hoe is dit . Vraag is hoekom het nog n klomp soldate die persoon aangerand volgens die berig .

marius ·

Hoe weet hulle nie wat die volgende stap is nie ? As daar getuienis is word diegene summier vervolg . Dis so eenvoudig .

Cherokee ·

Soos deur Anel ook genoem, word berig dat dit in sy tuin gebeur het, met ander woorde steeds binne die lyne van inperking.

antieke antie ·

as mense se kinders kleintyd respek en selfbeheersing en verantwoordelikheid geleer word dan sou dit al die reels nie en mense wat wette moet toepas nie nodig gewees het nie….

Scalla ·

So verstaan ek reg, ek en my buurman kan deur die draad staan en gesels met elkeen n bier in die hand, die een moet net nie deur die draad klim nie, dan is dit n oortreding.

Anel ·

Klink my hulle sluit jou toe as jy dit ook doen. Gli nie die lot weet wat hulle wil hê nie. Pas die reëls aan soos dit hulle pas. Hulle gaan vir jou kwaad wees ondeat jy vir jouself voorsiening gemaak het en nie met hulle wil deel nie.

Bets ·

Ja geen fout as jy in jou jaart of in jou huis still sit en n drankie geniet nie los die mense Dan net uit hoekom gaan indring hulle mos niemand gepla nie

Genis ·

Hy was dan in sy tuin? Ek dink die klomp onbevoegde klomp weet nie eers grond van gruis af nie… Hulle wou seker drank vat, of saam drink… geen dissipliene nie

PieterP ·

Die berig reken die mense was binne in hulle erf. So hulle was op hulle eiendom dus het die weermag ‘n perseel onwettig betree. Wonder of hulle ook die streng keuring gekry het wat Cele in die vorige artikel mee gespog het. Boeta as ek in my erf is en jy kom in om my te kom dreig gaan die vonke spat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.