Weerwaarskuwing vir N3-tolpad

N3-tolpad Foto: Google Maps

Die N3TC het Woensdagmiddag ʼn waarskuwing uitgereik aan padgebruikers om van vanaand af versigtig te wees op die N3-tolpad, aangesien ysreën en moontlik ligte sneeu verwag word.

Volgens die jongste weerberigte kan gebiede langs die N3-tolpad geraak word deur ysreën en sneeu insluitend Harrismith, Van Reenenspas, Mooirivier, Ladysmith en die KwaZulu-Natalse Middellande.

“Paaie en vervoer kan hierdeur geraak word en dit kan tot vertragings en verkeersopeenhopings lei,” het Con Roux, handelsbestuurder van die N3 Tolkonsessie (N3TC), gesê. “Motoriste word aangemoedig om eerder hul reisplanne uit te stel of hulself voor te berei op veeleisende padtoestande.”

Hy het gesê die N3TC sal alles in sy vermoë doen om algemene veiligheid op die N3 te verseker en mag moontlik selfs dele van die N3-tolpad sluit indien padtoestande te gevaarlik raak. “Vervoer en logistieke operateurs, veral diegene met vee en bederfbare goedere, moet kennis neem dat paaie moontlik gesluit kan word.”

N3TC bestuur die N3-tolpad tussen Heidelberg in Gauteng en Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

Die organisasie se padvoorvalbestuursdienste en alle nooddienste is op bystand en gereed om ondersteuning te bied waar nodig.

“As jy geen ander opsie het as om van die pad gebruik te maak nie, raai ons aan dat jy op hoogte bly van weerwaarskuwings en die moontlikheid van padsluitings. Die toestande kan moontlik vinnig verander. Bly dus selfs op hoogte terwyl jy reeds op die pad is,” het Roux bygevoeg. “Pak ekstra komberse, kos en snoepgoed in jou motor indien jy dalk in ʼn lang sluiting vasgekeer word. Persone met mediese toestande moet ook seker maak dat hulle voldoende mediese voorraad en medikasie by hulle hou.”

Weersomstandighede kan ook tot kragonderbrekings lei en kommunikasiestelsels kan moontlik onder druk geplaas word. “Hou in gedagte dat jy dalk nie kontak sal kan maak met ander mense indien selfoon- en ander telekommunikasiedienste afgeskakel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wonder ·

Sou n beter berig gewees het as hulle kon noem van wanneer tot wanneer hierdie toestande moontlik voor sou kom

Nico Pretorius ·

Tot wanneer sal N3 Tolpad in die swak weerstoestand wees? Ysreen… sneeu… ens…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.