Weerwaarskuwings vir verskeie provinsies

Argieffoto (Foto: HubertRams, Pixabay)

Die KwaZulu-Natalse noodbestuurspanne is op gereedheidsgrondslag geplaas ná die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) Dinsdag ʼn waarskuwing uitgereik het van swaar reën wat tot Woensdag sal duur. Swaar neerslae, hewige donderstorms en sterk winde, asook die moontlikheid van kitsvloede word in sommige dele van KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en die Vrystaat verwag.

Edward Engelbrecht, voorspeller by die SAWD, het gesê swaar reën van tot meer as 50 mm word Dinsdagmiddag aan die suidelike dele en gedeeltes langs die kus, tussen Richardsbaai (KwaZulu-Natal) en Koffiebaai (Oos-Kaap) verwag. Die distrikte Harry Gwala, Ugu, uMgungundlovu, Ilembe en King Cetshwayo, asook die eThekwini-munisipaliteit (Durban) in die provinsie kan geraak word.

Sipho Hlomuka, die LUR van die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, sê dié weersomstandighede kan ʼn ernstige risiko vir inwoners in die provinsie inhou. “Ons noodbestuurspanne is op bystand in die gebiede wat veral geneig is tot oorstromings,” sê Hlomuka.

Hy doen ʼn beroep op inwoners om versigtig en waaksaam te wees, veral omdat swaar reën die sigbaarheid op die pad kan belemmer.

Swaar neerslae word ook vir die oostelike dele van die Oos-Kaap en die suidwestelike dele van die Vrystaat verwag, wat Dinsdag van die middag tot die aand sal duur.

Daar is Woensdagmiddag ʼn 60%-moontlikheid van hewige donderbuie in die sentrale gedeeltes van die Noord-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.