Wees geldwys hierdie feestyd

(Foto: iStock)

Kersfees is om die draai, langer winkelure loer, en so ook die versoeking om meer in die inkopiewaentjie te laai as wat werklik nodig is. Ja, dis was nóg ’n taai jaar en almal smag na ’n klein bederfie, maar die vreugde van ’n duur geskenk of oordadige etes is geneig om ’n mens vroeg in die nuwe jaar aan die hakskeen beet te kry.

Hier is ’n paar wenke om dié feestyd geldwys te wees en nie die nuwe jaar gebukkend onder ’n skuldjuk te begroet nie.

Begroot. Dis die woord waaraan die meeste mense ’n hekel het, maar die vertrekpunt van enige besteding, ook (veral) dié tyd van die jaar. Of jy met vakansie is en of jy die tuinroete in Gauteng doen – besluit wat jy tussen nou en jou volgende salaris mág bestee aan ontspanning. Jy hoef nie van elke roomys op die strand boek te hou nie, maar ’n ete vir vyf by ’n gesinsrestaurant kan jou kaartbalans vinnig met R500 tot R1 000 na die rooi kant toe druk. Besluit waar en hoe gereeld julle as gesin iets lekker soos ’n uitstappie of uiteet gaan aanpak en begroot hiervoor.

Kersgeskenke. Daar is niks soos Boney M en blink balle aan hoë Kersbome om ’n mens effens van jou sin vir finansiële verantwoordelikheid te laat vergeet nie. Maak ’n lysie voordat die wiele winkel toe rol of jou muis na die aanlyn winkel toe wikkel. Stel ’n lysie saam van mense vir wie julle graag geskenke wil gee. Hou dié lysie kort! Besluit vooraf op die bedrag per persoon wat julle kan bestee, en koop iets nuttigs. Dis soms baie pret om saam as vriende of familie te besluit om geskenke tot R50 elk te beperk en moeite te doen om iets sinvol vir dié bedrag te soek.

Handgemaak. Geskenke hoef nie duur te wees om jou hart vir iemand te wys nie. Inteendeel, ’n handgemaakte geskenk is besonder spesiaal. Bak ’n vars brood en draai dit in ’n mooi vadoek toe. Daar is ook niks so mooi of lekker soos varsgebakte, versierde koekies nie. Maak dié bakkery ’n prettige gesinsaktiwiteit en verpak die koekies in ’n goedkoop glasbottel wat jy by jou naaste plastiekwinkel koop, of dalk het jy deur die jaar al jou leë glasbottels gebêre. Al wat kort, is ’n mooi lint.

Mengelmoes-etes. Met die feestyd word daar gewoonlik oordadig gekook en gesmul. Laat almal wat vir julle Kersmaal of familie-ete byeenkom elkeen ’n gereg voorberei en saambring. So dra almal (finansieel én nostalgies) by tot die ete en hoef niemand ure voor die stoof deur te bring nie. Net so hoef versierings nie peperduur te wees nie. Versier die tafel met groenigheid en byvoorbeeld suurlemoene uit die tuin, of druk ’n foto van elke spesiale gas uit en gebruik dit as plekmatjies. Snuffel aanlyn vir goedkoop idees – daar is duisende!

Geskenk van tyd. Die afgelope twee jaar het tyd en gesondheid sulke belangrike kommoditeite geword. Gee dié jaar meer van jou tyd en minder geskenke. Soek al jul ou klere en wit olifante uit en skenk dit aan ’n behoeftige organisasie soos Helpende Hand. Hulle het Ons Winkel-takke landwyd wat waarlik ’n verskil maak. Nooi iemand vir ete wat jy weet dié Kerstyd alleen deurbring, of besoek die plaaslike ouetehuis of kinderhuis as Covid-19-beperkings dit toelaat. Kry die kinders betrokke om waarlik die betekenis van (om)gee te leer. Ruil selfgemaakte geskenkbewyse as gesin uit, wat alles van grassny tot skottelgoed en karwas kan insluit. Dit kos niks, maar wys jul omgeeharte vir mekaar.

Skuldstrik. Vermy die versoeking om jou (hele) bonus te blaas of jou kredietkaart te gebruik. Probeer by jou begroting hou en betaal eerder met kontant. “Ek gaan myself ʼn bietjie bederf,” is ’n gevaarlike gedagte om te koester. As iets nie nou noodsaaklik is nie, moenie dit koop nie. Veral nie speelgoed wat môre vergete in die laai lê nie. Onthou, die groot skoolklere-en-skryfbehoefte-aankope vir die nuwe jaar lê voor die deur. Probeer vanjaar om die geldgordel in te trek en die nuwe jaar sonder ’n swaarder skuldlas af te skop. Dis nie maklik nie, maar dis moontlik. Dalk is die belangrikste dat ons mekaar net weer herinner waaroor Kersfees werklik gaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elinette ·

Wel, ek sal maar “geld-wys” MOET wees. Ek het net 50% bonus gekry, waar die ander personeellede by die plek waar ek werk, 100% bonus gekry het. Wel, “afterall” is ‘n bonus net dít: ‘n BONUS – iets waarop mens nie geregtig is nie en wat gewoonlik gegee word deur ‘n werkgewer aan ‘n werknemer om die werkgewer se waardering te toon.

Charl ·

Weet hoe dit voel, werk jou g@t af en almal om jou kry bonus maar vir jou word vertel jou salaris regverdig nie ‘n bonus nie ??

Elinette ·

Jaaaaa, wat Neef, so is die ou lewe mos maar. As mý salaris nou nog van so ‘n aard was dat dit nie ‘n bonus regverdig nie, was dit ‘n ander saak … maar mense wat vier keer soveel kry, as wat ek verdien – húlle het volle bonusse gekry!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.