Wees op die uitkyk vir dié tendense in 2022

Bronwyn Williams, Fred Roed en Dion Chang. (Foto: Verskaf)

Oorlogvoering met memes, al meer vleis wat in ʼn fabriek gebrou word en ʼn spitstyd in die Metavers – dit is ʼn paar van die vreemde vooruitsigte vir die toekoms.

Dion Chang en Bronwyn Williams, twee toekomskundiges van Flux Trends, het onlangs by The Futurist-konferensie die jaar wat voorlê ontleed. Die konferensie was ʼn geleentheid waar Suid-Afrikaners heelwat vreesaanjaende en fassinerende voorspellings oor die toekoms kon hoor, maar ook meer kon leer oor die verskillende geleenthede vir sakeondernemings en die mensdom wat deur hierdie tendense en verwikkelings moontlik gemaak word.

“Idees wat ons voorheen as in die verre toekoms beskou het, is nou besig om die mark te betree. Die implikasies hiervan vir ondernemings en die samelewing as geheel is massief en voel dikwels bo ons begrip,” het Fred Roed, uitvoerende hoof van Heavy Chef, gesê. Heavy Chef is ʼn organisasie wat op entrepreneurs fokus en bied die jaarlikse konferensie aan.

“Bronwyn en Dion is presies die briljante breine wat ons nodig het om hierdie nuwe verwikkelinge smaaklik maar verteerbaar vir ons aan te bied, of die neigings nou geleenthede of bedreigings inhou.”

Chang het ʼn oorskou van hoe die wêreld in die toekoms gaan lyk met sy “The State We’re In”-verslag gegee. Hy het die woord “trends” as akroniem gebruik vir die jongste wêreldneigings in tegnologie, kleinhandel en bemarking, ekonomie, natuurlike wêreld, diplomasie en sosio-kultureel.

“Groot verandering gaan gewoonlik gepaard met groot angstigheid. Ons is tans besig met ʼn soort tango in ʼn poging om terug te keer na ʼn soort normaal te midde van die pandemie. Dié dans word gekenmerk deur skerp kopbewegings en staccato dansbewegings – ʼn soort vinnig-vinnig, stadig-stadig en dit is hoe die wêreld tans ook beweeg,” het Chang verduidelik.

Wees vriendeliker

Die toekomskundige Dion Chang sê in ‘n kennisekonomie kan werkers net ses ure effektief werk en daarom is ‘n vierdag werkweek meer sinvol. (Foto: ‘n Skermgreep uit “The Futurist”-aanbieding)

Chang meen die afgelope twee jaar was die wêreld in ʼn deurlopende en verhoogde toestand van bedreiging en vrees. Dit is waarom ons nou merkbare hoë vlakke van aggressie begin sien en dit is dikwels kelners en lugwaardinne wat dit tans die meeste ontgeld.

“Almal is meer gespanne en ons ly aan bekommernis-uitbranding, so kom ons wees vriendeliker met mekaar in hierdie veranderende tye,” het hy gepleit.

As ʼn mens oor die toekoms praat kan jy dit natuurlik nie doen sonder om na tegnologie te verwys nie en die Metavers is sekerlik die grootste verandering wat sommer vyf jaar vooruitgespring het sedert 2020.

“Dit is spitstyd in die Metavers en almal storm die eter in om hul aanspraak hier te maak. Groot handelsmerke soos Nike, Disney, Ralph Lauren selfs Wal-Mart wil hulle hier vestig.”

Interessant genoeg is dit nie net bekendes of handelsmerke wat spring vir ʼn stukkie digitale land in die Metavers nie, maar selfs regerings het aandeel in dié pret. Barbados en Seoel staan voor in die ry en het reeds ambassades en eiendom in die digitale wêreld aangeskaf.

Volgens Chang sal daar ook toenemend in die kleinhandel en bemarkingsomgewing na ʼn kontaklose ekonomie geskuif word.

“Kenners reken dit neem 21 dae om ʼn nuwe gewoonte te vorm, maar na twee jaar is ʼn gewoonte redelik gevestig en dit is wat met die pandemie gebeur het.” Hy meen aanlyn inkopies en tuiskantore is die toekoms en iets wat in ʼn land soos Suid-Korea reeds verder aangemoedig word.

Chang het verder bygevoeg dat gekweekte proteïen al meer en algemeen beskikbaar gaan word.

“Die pandemie het ons nog meer ongeduldig gemaak, en soos met TikTok, die platform wat die koning van onmiddellike bevrediging is, gaan ons dit ook in die restaurantbedryf sien waar ons kos al vinniger afgelewer moet word. Daar is reeds afleweringdienste op aanlyn bestellingsplatforms wat onderneem om dit in minder as tien minute op jou voorstoep te besorg.”

Chang het in sy afdeling oor die ekonomie gesê die middelkas is besig om te verdwyn.

“Ek noem dit die ‘middelklas lugspieëling’. Tydens die pandemie het die 1% van die rykstes eksponensieel ryker geword, terwyl die armes net meer behoeftig geword het. Die middelklas is besig om weg te kwyn.”

Al meer vleisprodukte sal van plante gemaak word, veral soos dit goedkoper word op dié produkte te vervaardig. (Foto: Joseph De Leo/Epicurious.com)

Alles is egter nie slegte nuus nie. Die koolstofekonomie maak meer volhoubare sakepraktyke moontlik en klimaatsverandering word uiteindelik ernstiger opgeneem.

Oor diplomasie het Chang gesê daar is ook groter aggressie tussen lande te bespeur en gemeenskappe lyk of dit net meer gepolariseerd is.

“Ek vermoed ons gaan ook in die toekoms sien dat immigrante toenemend gebruik word om ʼn magstryd na ʼn spesifieke kant in ʼn land te kantel.”

Chang het verder bygevoeg dat ons in die toekoms gewapende robotte sal gebruik om landsgrense te patrolleer – daar is reeds sprake daarvan op Indië se grense – asook memes en video’s wat lande gaan gebruik om mekaar te intimideer.

Op ʼn sosio-kulturele vlak het Chang verwys na lande soos Spanje, Skotland, Ierland en die Verenigde Arabiese Emirate wat ʼn vierdag werkweek wil uittoets of instel.

“Ons gaan ʼn toekoms betree waar al meer mense enkellopend is. Selfs nog meer vroue sê nee vir swangerskap en daar is ʼn opbloei in die vervaardiging van doeke vir volwassenes omdat mense al ouer word.

“Mense wat jou versorg het in die inperking, kan nou wettiglik as familie beskou word en die 9-tot-5-werkkultuur word toenemend verwerp vir die idee daarvan om ʼn miljoenêr in terme van tyd te wees.”

Chang het bygevoeg dat ʼn onderwerp soos geassisteerde selfdood as ʼn vorm van genadedood ook in die nabye toekoms aandag sal geniet en dat daar selfs produkte hiervoor ontwerp word.

Watter werklikheid verkies jy?

Die toekomskundige Bronwyn Williams het dié meme gebruik om die etiese kwessies uit te wys, wat toenemend oor die Metaverse en ‘n virtuele en aangevulde werklikheid gevra sal word soos dit deel van ons leefwêreld word. (Foto: Musky Memes/Twitter)

Williams het op haar beurt die vraag aan die gehoor gestel: “Watter werklikheid verkies jy?”

“Dit is ʼn onderwerp wat in die volgende 12 maande gereeld bespreek sal word omdat die Metavers en virtuele realiteit ʼn deur open vir die mensdom om ʼn totale dubbele lewe te lei.

“Die implikasie hiervan vir sakeondernemings, mense en die samelewing is reusagtig. Hoewel aangevulde of virtuele realiteit ons kan help om ryker ervarings by ons daaglikse lewe voeg, kan dit ook tot ʼn kultuur van ontvlugting lei.

“Dit kan al meer aanvaarbaar wees vir mense om in hulle eie hoeke terug te trek, wat net meer fisieke skeiding en isolasie tussen mense gaan skep in ʼn samelewing wat reeds deur polarisering gekenmerk word,” het Williams gesê.

Sy meen virtuele realiteitsruimtes kan vir ons ʼn oomblik van ontsnapping uit ons werklike lewens gee, maar dit kan ook ʼn soort verminderde werklikheid skep waar ons alles uitfiltreer wat ons nie wil sien of wil hanteer nie.

“Waaroor ons moet nadink, namate tegnologie meer persoonlik en kragtiger word, is wat ons vir die gebruik hiervan aan die anderkant mag inboet. Maak ons onsself minder menslik en wat maak van ons ʼn mens?

“Terwyl ons besig is om ʼn kontaklose samelewing skep, gaan ons heel moontlik sien dat die behoefte aan meer en werklike menslike interaksie kan toeneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacques ·

Die Amish-kultuur begin al hoe meer aantrekliker te lyk vir my. …..

Klein Karoo Loper ·

Nee ons weet dit kom. Daar is al reeds ‘n vrou verkrag in die Meta omgewing. Nogal deur ‘n groep. Ek sal nie verbaas wees as dit ‘n paar tieners was wat gewoond is aan geweldadige TV games nie. Mense gaan alles beproef. Jy gaan dalk oor en oor vermoor word en so mal wees dat jy nie gaan weet hoe om terug te keer na die werklikheid nie. Jy gaan so besig gehou word dat jy nie tyd gaan kry om reg te maak met jou Skepper nie. Die middel klas val weg en die armes moet minder gemaak word. Beeste poep nou kamtig te veel want die rykes wil ‘n mark skep vir gekweekte vleis. En daar is steeds mense wat soos skape niks fout sien met dit wat kom nie. Hulle wil vir almal wys dat wat my Almagtige God in ses dae geskep het, nie voldoende is vir die mens nie. Ek hoop en bid dat ek en my gesin by God kan wees voor hierdie dinge in plek kom. Dit is alles haarfyn beplan deur die Puppet Master.

Elmarie ·

Toekomskundiges? Waar het die ouens studeer om dit te word? ; D

annie ·

Is die spreker ‘n Suid-Afrikaner en ‘n Christen, praat hy Afrikaans en het hy al iets oor Afrikaners en hul geskiedenis gelees. Nee? Koebaai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.