Wees versigtig as jy hiér ry

Foto bloot ter illustrasie. (Kevin Gessner via Wikimedia Commons)

Die sekerheidsgroep Fidelity het Donderdag ʼn beroep op motoriste gedoen om uiters paraat te wees wanneer hulle by sekere padaansluitings in veral die Randburg-omgewing in Johannesburg ry.

Die groep waarsku ook teen misdadigers wat hulself as polisiebeamptes voordoen.

Fidelity maak in die verklaring melding van ʼn kennisgewing wat vandeesweek deur brig. Michelle Jones, bevelvoerder van die Randburg-polisiestasie, oor die kommerwekkende toename in kapings en ontvoerings in die noordelike gebiede van Johannesburg uitgereik is.

Dié kennisgewing maak spesifiek melding van op- én afritte by Malibongweweg en die N1, asook William Nicolweg. Dit sluit die gedeelte op die N1-noord en -suid tussen Malibongwe- en William Nicolweg in.

Die verdagtes werk glo in groepe van twee tot vier en gebruik hulle wit Ford Ranger en/of ʼn wit Volkswagen Polo met ʼn blou lig. Ander voertuie wat ook na bewering vir misdadige aktiwiteite ingespan word, is blou, wit en silwer Toyota Corollas, ʼn grys Nissan Navara en ʼn Nissan Almera.

Die verdagtes hou slagoffers na bewering teen hul wil aan en laai hulle dan gewoonlik in verskeie gebiede in Gauteng af.

Fidelity raai motoriste onder meer aan om dadelik na die naaste polisiestasie, winkel of enige ander besige gebied te ry indien hulle vermoed dat ʼn bedrieglike polisiebeampte hulle probeer voorkeer.

“Moenie na jou woongebied ry nie, aangesien jy dan huis toe gevolg kan word.

“Moet ook nie by ʼn verlate plek stop om op jou foon te praat of langs die pad te urineer nie.”

Motoriste word verder versoek om hul vensters te alle tye toe te hou.

“As iemand jou uit die pad probeer dwing, moenie paniekerig raak nie. Blaas net aanhoudend op jou toeter om aandag te trek.”

Wahl Bartmann, Fidelity se hoof- uitvoerende beampte, sê diefstal uit motorvoertuie en die steel van onderdele wek ook kommer.

“Wanneer jy by ʼn winkelsentrum is of op ʼn besoek gaan, probeer om binne te parkeer. Indien jy nie kan nie, maak seker dat jy geen waardevolle items in die voertuig los nie. Hou dit liewer in die kattebak.

“Maak seker jou voertuig is te alle tye gesluit.”

Bartmann sê voorts die toenemende gebruik van ʼn afstandbeheertoestel om die sluitmeganisme van motorvoertuie te versper (jam), het ʼn alledaagse verskynsel geword.

Hy moedig motoriste aan om seker te maak hul deure is gesluit voordat hulle van hul voertuig wegstap.

“As jy snags buite is, parkeer altyd jou motor in ʼn sigbare, goed beligte gebied waar daar ʼn veiligheidsdiens is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lillian ·

Daar is hope polisiestasies in daai omgewing, Fairlands, Randburg, Linden, Roodepoort … wat doen hulle daaraan?

Papsak ·

Ry iewers rond en soek kos om te eet polisie regtig vrot min gepla om land te beskerm

Harley Davidson ·

Regte polisie sou gesê het daar is n probleem hier maar die publiek hoef nie bekommerd te wees nie ons gaan julle veilig hou op daardie pad deur dit te patrolleer en die skelms vas te vat.

SjN ·

Die probleem plekke is dus aan die polisie bekend, tree op teen die misdadigers of is daar te veel papierwerk betrokke want skryf is ook nie een van hul sterk punte nie!!

Manie ·

Span die nuttelose weermag in om die patrolliewerk te doen.

Piet parys ·

Wees versigtig in die hele Suid Afrika . Sluit jouself toe . Kriminele regeer die land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.