Wees versigtig met Grondwet, maan kundige insette

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die eerste drie kennersmenings wat ingewin is deur die parlement se ad hoc-komitee oor die verandering van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, het gemaan tot groot omsigtigheid.

Die drie insette is ontvang van die oudminister van plaaslike en provinsiale regering, Mohammed Valli Moosa, oudregter Albie Sachs en prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Die komitee het agt hoëprofiel-kenners se insette oor die onderwerp gevra as begin van hul ondersoek na die bewoording van ’n moontlike grondwetwysiging. Openbare insette sal later in die proses volg.

Valli Moosa het in sy bydrae gemaan enige grondwetwysiging moet baie versigtig aangepak word, met ’n behoorlike en deeglike besef van die proses hoe die Grondwet geskryf is.

Hy het voorts die belang van nasiebou uitgelig, wat sou vereis dat daar algemene aanvaarding van die bewoording in die Suid-Afrikaanse bevolking moet wees en dat die ekonomiese risiko van enige verandering behoorlik verreken moet word.

Argieffoto: Pixabay

Valli Moosa het ook uitgelig dat daar by die destydse grondwetlike onderhandelings in Kempton Park baie spesifiek besluit is om nie die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper by die Grondwet in te sluit nie, maar die beginsel van regverdige en regverdigbare vergoeding.

Sachs meen die proses om die Grondwet te wysig, word tans oorhaastig onderneem. As enige verandering gemaak word, meen hy dit moet ’n klein verandering wees.

Die oudregter meen voorts heel nuwe regsbeginsels moet wêreldwyd nagevors word as moontlikhede. Hy het die voorbeeld uit die onlangse verlede genoem van hoe deeltitel as bykomende opsie tot eiendomsbesit by die Suid-Afrikaanse regstelsel ingevoeg is.

Sachs se kernpunt was dat die rol van die hof as arbiter by meningsverskil oor vergoedingswaarde versigtig beskerm moet word.

Hall het benadruk dat die Grondwet nie die reg op private eienaarskap van eiendom waarborg nie en dat markwaarde nie ’n maatstaf is nie – slegs regverdige en regverdigbare vergoeding.

Sy meen daar is basies vier moontlikhede by die verandering van artikel 25 van die Grondwet, naamlik staatseienaarskap van grond, ’n onderskeid tussen die behandeling van voorheen benadeeldes en voorheen bevoordeeldes, derdens geen spesifieke onderskeid tussen daardie twee groepe nie en laastens dat gevalle waar onteiening sonder vergoeding kan plaasvind, spesifiek en presies in die Grondwet omskryf word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andreas ·

Die skriftelike insette van die kundiges wat by verre die wysiging in die grondwet afgesiet het is geignoreer, maar daar is na die mondelingse van die onkundiges en die populiste geluister. Van daar af het Cyril spoed opgetel, en daar gaan geen remme aangedraai word na stemdag toe nie. Hierdie drie here se vermaning, gaan nou nie ‘n vaal kol aan Cyril se wortel voor aan die verkiesingstok maak nie.

willem Botha ·

Wat het geword van die beginsel van twee derde meerderheid om die grondwet te verander?

Awie Opperman ·

Dit het hulle, omtrent almal behalwe die DA, VF+, COPE en ACDP het die verandering gesteun. Die partye wat die verandering voorstaan verteenwoordig meer as 2/3.

Johann ·

En die ANC anargiste gaan luister hoekom? Sal die land letterlik verwoes ter wille van hulle eie onbevoegde magsbehepte massas omkoop met onwerklik hede!

Kabous ·

Die gesegde lui ‘If it ain’t broke, don’t fix it’. Die ANC is vasbeslote. Hierdie ding gaan nog in hul gesig ontplof. Hoor my lied…

John ·

Hierdie nuwe sage is net hoofstuk soveel van die gruwelstorie oor die land sedert 1992. Met ‘n skynbaarbaar permanente kommissie oor staatskaping waar erge vergrype na geen vervolging lei, wil grond-, plaas en eiendomkapers net nog ‘n bladsy byvoeg. Regters gaan sonder werk sit… buiten om glo wit rassiste lessies te leer… terwyl kommissies met stapels papier toegegooi word, dìt terwyl grypers hul soveelste koppie koffie op iemand anders se stoep sit en drink… en uitkyk oor hul lieflike boetebossie-landerye wat welig woeker.

HPV ·

Watter Grondwet? Die een wat al 25 jaar eensydig toegepas word? Wie moet ons bedank? Natuurlik ons liggewig onderhandelaars…

Grassie ·

Dit maak nie saak met watter omhaal van woorde die ANC se kwasie-deskundiges hul voorneme tot grondroof probeer regverdig nie, dit bly die aantasting van ‘n basiese reg, nl eiendomsreg. Hul taktiek is duidelik om met allerlei vroom praatjies en heuningsmeerdery die hele wêreld ‘n rat voor die oë te draai maar as daardie besluit eers goedgekeur is, is die slag gelewer. Dit maak ‘n deur oop wat nooit weer toegemaak sal kan word nie. Hulle sal nie sommer dadelik instorm en alles vat nie, Hulle sal Afrika-tyd gebruik, stappie vir stappie maar al vinniger totdat geen witmens enigiets meer besit nie. En dit behels nie net grond nie.
Hierdie hele proses stuur vir ons Afrikanervolk ‘n baie duidelike boodskap.
“Mené, mené. tekél, ufarsen”

Realis ·

Kommuniste kan vertrou word, om kommuniste te wees.
Selfs Albie reken dat die grondwet verander moet word, maar net ‘n bietjie op ‘n slag. Net so dat die paddas nie agterkom die water word warmer en warmer nie…
Al wat die “kommissies” doen is om die onvermydelike ‘n maand of twee uit te stel.

Trojaanse Donkie ·

HPV , ek stem saam met jou. Watter grondwet? Kan nie glo daar is nog iemand wat in hierdie klug glo nie. Die mees patetiese spul op ‘n dwaalspoor. Kom ons kyk wat is in 2020 oor! Sodra hulle taxi bestuurders kan oortuig van die bestaan , kan ander dit dalk ook oorweeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.