Wees versigtig voor jy reis, maan AA

Die Johannesburgse metropolisie het dié foto’s van betogings op twitter gedeel. (Foto: Twitter/ JMPD)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het motoriste in KwaZulu-Natal en Gauteng gewaarsku om reise met ekstra omsigtigheid te beplan om sodoende gebiede waar gewelddadige betogings voorkom, te vermy.

Dié vereniging sê hy is ook bekommerd oor die ekonomiese uitwerking van die betogings op die land se hoofpaaie, tolhekke, sekere middestadgebiede en veral op die vragvervoersektor.

Maroela Media het vroeër berig chaotiese betogings woed sedert die naweek in KwaZulu-Natal en Gauteng onder die vaandel van oproepe dat oudpres. Jacob Zuma, wat verlede week sy tronkstraf begin uitdien het, vrygelaat moet word.

Talle ondernemings is intussen geplunder en besteel, voertuie en vragmotors is uitgebrand en verskeie nasionale paaie is versper en beskadig.

“Die voortslepende onrus het vernietigende gevolge vir die land se ekonomie en veroorsaak meer skade, hoe langer dit ongemerk bly,” sê die AA.

Die AA sê behalwe dat die betogings miljoene rande se skade aan infrastruktuur tot gevolg het, word mense se lewens in gevaar gestel.

“Ons wil ʼn beroep op die publiek doen om nie naby enige van hierdie gebiede waar die onluste heers, te gaan nie. Heroorweeg eerder jou reisplanne of vind veiliger alternatiewe roetes,” sê die AA.

Die AA sê motoriste wat tans hulself op pad bevind, moet seker maak dat hulle oor ‘n private sekuriteitsopsie – soos ’n paniekknoppie – beskik in geval hulle in ʼn onlussitusie beland.

“Ons het die afgelope twee dae gesien dat onluste in gebiede asof uit die bloute ontstaan en niemand kan voorspel waar dit weer kan gebeur nie.”

Die AA gee die volgende raad:

  1. Vermy gebiede waar onluste heers.
  2. Gebruik ʼn GPS-navigasiestelsel om enige verkeersopeenhopings op te tel om sodoende betyds ’n alternatiewe roete te kies.
  3. Hou die nuus en sosiale media dop om op hoogte te bly van waar die betogings plaasvind.
  4. Indien jy moet reis en jou eie voertuig gebruik, maak seker dat die voertuig in ʼn goeie meganiese toestand is en dat daar voldoende brandstof in die tenk is.
  5. Moenie met waardevolle artikels, soos duur juwele of klere, reis nie. Hou skootrekenaars en mobiele toestelle buite sig en reis met so min kontant as moontlik.
  6. Indien moontlik, moet nie alleen reis nie.
  7. Stel jou werkgewer in kennis as jy van openbare vervoer gebruik maak om by die werk te kom en moontlik deur die betogings nie werk toe kan gaan nie.
  8. As jy in ʼn situasie beland waar jy in gevaar verkeer, aktiveer onmiddellik jou private veiligheidsdienste wat jy tot jou beskikking het.
  9. Fokus op jou eie veiligheid eerste in plaas van jou voertuig of enige ander besittings.
  10. Indien moontlik, ry na die naaste veilige plek – soos jou naaste polisiestasie.
  11. Moet nie met enige betoger praat nie.
  12. Let op die voorskrifte van owerhede om afgesperde gebiede te vermy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Wag nou tot Jan publiek begin moeg word dan gaan jy n ding sien

Kokerboom

Jan Publiek het nou genoeg gehad van die ANC boewe

Anel

Vergeet maar van opsie 10.

SjN

Ignoreer asb punt 10 , hul is die grootste kriminele, gisteraand op tv weer bevestig met die plundery.

Danie

“Indien moontlik, ry na die naaste veilige plek – soos jou naaste polisiestasie.”
HA HA HA HAAA
HYG HYG
HAA HAA HAAAAAA