Wegholbrande teister noorde van Pretoria

Wegholbrande saai chaos in die noorde van Pretoria. Foto: Facebook.

Wegholbrande saai chaos in die noorde van Pretoria. Foto: Facebook.

Nagenoeg 60 plase en kleinhoewes is sover geraak deur wegholbrande wat sedert die naweek in die De Wildt-omgewing, noordwes van Pretoria, woed.

Die brande, aangehits deur sterk winde, het reeds ʼn huis, ʼn lapa en stoorkamers in puin gelaat en die publiek se hulp is gevra om die brande te help beveg.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Maandag aan Maroela Media gesê die brandweer, gemeenskapslede en verskeie boere van die omgewing spook al sedert Saterdag om die brande onder beheer te bring.

“Die droë toestande en erge winde veroorsaak wegholbrande wat oor plase en plotte se voorbrand-gebiede spring,” het Pieterse gesê. “Die brande is nog erg aan’t woed en ons doen alles in ons vermoë om dit onder beheer te bring en eiendom en diere te beskerm. Die wind is nog steeds sterk en bemoeilik die taak.”

Suzette Peterson wat die De Wildt Helpmekaar se beheerkamer beman, het aan Maroela Media gesê daar word dringend gesoek na mense wat kan help om die brande te beveg. “Ons kort meer hande op die grond om te help vuurslaan,” het Peterson gesê. “Een van die brande woed in die Magaliesberg en dit is bitter moeilik om dit daar te bestry.”

Lede van verskeie gemeenskapspolisiëringsforums in die noorde van die stad tot by Brits in Noordwes probeer die brande onder beheer bring.

Peterson het ook ʼn beroep op mense gedoen wat kan help met gebottelde water of toebroodjies vir die brandbestryders en vrywilligers om die beheerkamer by 012 525 1034 te skakel.

  • Die bekende Stone Cradle-restaurant langs die Rietvlei-natuurreservaat in Centurion het Sondagoggend onder dieselfde droë en winderige toestande afgebrand. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.