Wegholtrok beseer sewe op snelweg

‘n Wegholvragmotor het in twee voertuie geploeg. (Foto: Netcare 911)

Sewe mense is Maandagoggend op die N3-snelweg beseer nadat ʼn wegholvragmotor in twee voertuie geploeg het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê ʼn vragmotor het na bewering een van die afritte op die Geldenhuys-wisselaar op die N3 in Germiston gemis, toe dit die pad verlaat en in ʼn veiligheidsversperring geploeg het.

Die vragmotor is nie deur die versperring gestuit nie en het deur ʼn tweede versperring gegaan voordat dit weer op die snelweg beland het.

Dit is tóé dat die vragmotor teen ʼn ander vragmotor en ʼn kombi gebots het.

Paramedici van Netcare, Emer-G-Med en ER24 is net voor 09:00 na die toneel ontbied.

Die kombi is tussen die twee vragmotors ingewig. (Foto: Netcare 911)

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het twee vragmotors in die middel van die snelweg aangetref, met die kombi wat tussen die twee ingewig is.

“ʼn Man het in een van die vragmotors gelê, terwyl ses ander mense langs die pad gesit het,” sê Meiring.

“Die man in die vragmotor was in ʼn kritieke toestand en gevorderde lewensondersteunende ingrypings is op hom toegepas voordat hy na ʼn hospitaal geneem is.”

Die ander ses mense het geringe tot ernstige beserings opgedoen. Hulle is deur verskeie ambulansdienste na plaaslike hospitale geneem.

Die presiese rede vir die ongeluk is nog nie bekend nie, maar owerhede was op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Weereens ‘n trok en spoed betrokke. Hy moes vrek vinnig gery het om so deur daai gras en opdraende te kon uitry en daai ander trok en kombi so hard te kon tref.

Kobus ·

Spoed , spoed en nogmaals spoed. Wonder of trokke ook soos vliegtuie toegerus is met ‘n “vlugopnemer” Dit behoort eienaars baie te help.

Blom ·

Kobus, as jy ‘n gerspekteerde vervoer maatskappy is dan is die antwoord JA. Ek werk persoonlik vir ‘n baie groot vervoer maatskappy en al ons voorhakkers het kameras in asook ‘n “on board computer”. Dit wys presies waar die voertuig is, die spoed, harde rem ens. Die hele roete kan ook afgelaai word na die tyd en ons kan byvoorbeeld spoed per sekonde kry indien daar ‘n ongeluk was. Al die goed kos natuurlik baie geld en nie al die maatskappye kan dit bekostig nie. Dit is die groot probleem, dit moet wetgewing word vir alle maatskappye.

AmY ·

Spoed en rokelose bestuur. Wat anders? Dalk onpadwaardige voertuig?

Hasie ·

Trokeienaars druk die bestuurders tot breekpunt Rustye is min en van die voertuie is in swak kondisie …van wiele wat skaars loopvlak het tot remme wat nie nagegaan word nie …en Dan het sekere bestuurders die gewoonte aangeleer om op selfone te wees wanneer hul bestuur …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.