Weinig veranderings aan ‘hersiene’ ministeriële handboek

(Foto: Nils Nedel/Unsplash)

Die DA sê die hersiene ministeriële handboek, waaroor daar ʼn groot bohaai gemaak is, is niks meer as ʼn poging om Suid-Afrikaners vir gekke te hou nie.

“Die enigste positiewe veranderinge aan die handboek wat die moeite werd is om te noem, is dat die staat nie voortaan vir veiligheidsopgraderings by ministers se private wonings gaan betaal nie, asook die R700 000-beperking op voertuie vir ons miljoenêrs-ministers,” het Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, gesê.

“Die res van die handboek is eintlik maar oëverblindery wat die obsene voordele wat die ANC steeds aan sy kaders uitdeel, probeer verbloem.”

Maroela Media het vroeër berig ministers gaan voortaan minder luukshede op die belastingbetaler se rug verkry. Dit sluit in dat ministers en hul eggenotes voortaan ekonomiese klas moet vlieg op binnelandse vlugte en op internasionale vlugte wat nie twee ure vliegtyd oorskry nie.

Schreiber sê reise na inkopiebestemmings soos Doebai, New York en Londen duur alles langer as twee uur. “Dit beteken dat alle ministers internasionaal steeds besigheidsklas vlieg op die belastingbetaler se onkoste.”

Hy sê dáár kan hulle tuisgaan in hotelle wat pas by die “status van ʼn minister” – wat vyfsterhotelle beteken.

Volgens die hersiene handboek is die aantal kantoorsteunpersoneel verminder van 13 na sewe vir ’n minister, van nege na vyf vir ’n adjunkminister, van 12 na sewe vir ’n provinsiale premier en van 12 na vyf vir ’n provinsiale LUR.

Schreiber sê dit was presies dieselfde in die vorige weergawe van die handboek. “Belastingbetalers betaal selfs steeds vir elke miljoenêrsminister om deur ʼn persoonlike kok bedien te word, wat ʼn mens net kan aanneem is iemand wat die ANC-grootkoppe moet red daarvan om selfs net hul eie kos te kou.”

Hy sê die getal besigheidsklas-vliegkaartjies vir afgetrede ministers, adjunkministers en hul gades is ook dieselfde as wat dit al in 2007 in die ministeriële handboek was.

“Pleks daarvan dat hulle hierdie vulgêre mors van geld verwyder het, het [pres. Cyril] Ramaphosa en [minister van staatsdiens en administrasie, Senzo] Mchunu dit bloot uit die nuwe weergawe gevee in ʼn poging om dit van burgers weg te steek,” het Schreiber gesê.

Schreiber sê die DA maak kapsie teen dié skaamtelose poging om Suid-Afrikaners om die bos te lei.

“Die DA herhaal sy beroep op die ANC om, pleks daarvan om weg te skram van die noodsaaklikheid om verkwistende uitgawes op miljoenêrsministers, huidig en afgetree, te verminder, eerder die voorbeeld van die DA-geleide Wes-Kaap te volg.

“Waar ons regeer is daar geen besigheidsklasvlugte, geen lewenslange voordele, geen vyfsterhotelle en geen opgeblase persoonlike kantore waar werkers die ministers moet help om die kos, waarvoor belastingsbetalers opdok, te help kou nie,” het Screiber gesê.

“Ons gaan nie opgee in die stryd om die land van finansiële ondergang te red weens die onbeperkte gierigheid van ANC-kaders nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

R700000 se voertuig? Hoekom maar nie hou by die R800000 voertuig nie, of opstoot tot by R1000000, of laat val tot by R400000? Onlangs die gaval genoem van die New Zealand premier vrou wat self in haar Toyota Corrolla ‘n gas van die VSA, by die lughawe gaan oplaai het. ‘n Land se premier sonder lyfwagte, in ‘n Toyota Corrolla wat self haar gas gaan oplaai. Hoe se mens in Engels – RESPECT!! Het RESPECT vir geen minister in Suid Afrika!

Jimmy ·

In Swede moet alle ministers van openbare bus en treinvervoer gebruik maak. Vir langer padritte moet hulle ‘n poelkar gebruik, en vra vir ‘n drywer. Geen lyfwagte. Hulle bly in amptelike woonstelle of kleinerige huise. Net die eerste minister het ‘n amptelike voertuig met ‘n drywer en lyfwag. Gewoonlik ‘n Volvo.

Dries ·

Gaan lekker ons dom belasting betalers finansier julle mos julle korrupte ANC regering gelukkig is die koeie se melk besig om op te droog

Botterblom ·

As ek aansoek doen vir ‘n pos dan moet ek amper oorgekwalifiseer wees en hope ondervinding ens. ens. Moet hulle nie ook so iets in die handleiding inbring om te kwalifiseer vir die poste nie… Hoe moet iemand wat miljoene kry as pakket verstaan hoe die ou op straat voel.. Hy /sy was dalk op ‘n tyd arm, maar sal dit gou vergeet. Voel ook dat hulle 100% in die wet moet lewe, soos met hul skuld ens. As jy nie ‘n voorbeeld kan wees nie kan jy nie ‘n leier wees nie… meeste, veral mense wat nie geletterd is nie, leef volgens wat hul sien en beleef… Dit ‘n verloor verloor situasie die. Die VF en die DA moet saamspan in ‘n mate om hulle sigtelik maak…

Pieter ·

Nie eers ou zuma of cr het std vyf nie broer dit is hoekom ons sit waar ons sit kennie die verskil tussen een duisend en een miljard nie maar hulle best die land

André André ·

Ek haal aan uit ‘n berig in News24 van ‘n paar dae gelede:

“After a draft handbook was presented to the Cabinet in June this year, President Cyril Ramaphosa reportedly demanded further cuts”.

Nou ja, dit waaroor Christel hierbo berig, is oor die resultaat daarvan.

Emma ·

Nee wat voel vere vir die belastingbetalers dink ons is vrek dom en onnosel. Solank hulle kan leef soos konings voel hulle niks vir die armes die klomp wat so vir hulle stem en omgekoop word om die kruisie op die regte plek te trek. N skande ek sal my kop in skaamte laat sak as ek so die miljoene in my sak steek en ander moet sukkel om kop no water te hou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.